Henry Joubert en sy vrou, Christelle Webb-Joubert saam met die skoolhoof van Martie du Plessis, Francois van Heerden (agter), Donderdag op dié skool se Aand van die sterre. Foto: Lientjie Mentz


Met die inkomste van die 20ste Aand van die sterre wil die Martie du Plessis-skool vanjaar nog sonpanele koop om onderwys hier beter te maak.

Die hoof van dié skool, Francois van Heerden, het op die geselligheid op Donderdag 21 September daarna verwys dat hy verlede jaar gesê het die oogmerk was om 53 moderne projektors – een vir elke klas by die skool – te koop om onderrig te vergemaklik.

“Ons het dit gedoen. Dit sou ons jare geneem het om die geld bymekaar te maak om dit te kan doen, maar die Aand van die sterre het dit vir ons baie vinniger moontlik gemaak.”

Hy sê die projektors maak elke dag ’n verskil in die klasse en help leerlinge om die werk beter te verstaan.

Van Heerden het verduidelik die frustrasies met beurtkrag raak dié skool meer as ander skole omdat talle leerlinge spesiale behoeftes het.

“Ons leeslaboratorium en wiskunde-laboratorium werk nie wanneer die krag af is nie. Die kinders se hulpmiddels werk dan ook nie. Daarom wil ons nog sonpanele oprig sodat beurtkrag onderrig nie so ontwrig nie.”

Vanjaar se gasspreker was die RSG-omroeper Christelle Webb-Joubert, wat gesels het oor haar en haar man, Henry, se seun Lukas (12) wat as baba brein­skade opgedoen het en nie verbaal kan kommunikeer nie.

“Ek het soveel by Lukas geleer,” sê Christelle oor haar seun.

“Een daarvan is sy vermoë om mense regtig raak te sien. Lukas gee aandag aan alle mense – selfs die karwag wat die motors oppas. Ons sien dikwels nie mense wat ’n diens lewer raak nie, maar hy sién hulle.”

Webb-Joubert het Van Heerden en die personeel van Martie du Plessis geloof omdat hulle die leerlinge by dié skool raaksien.

Sy het ook gepraat oor haar stryd sedert sy op 35 gediagnoseer is met ’n oogtoestand wat tot die degenerasie van haar retina lei, sodat sy nou min kan sien.

Sy sê dit was haar passie om nuus te lees, en dit was baie swaar toe sy moes ophou omdat sy nie meer kon lees nie.

“Die swaarste was toe ek moes ophou bestuur,” sê sy.

“Ek kan nou nie meer gesigte sien nie. Dit is bittersoet. Op ’n manier is dit bevrydend – ek kyk na mense soos die Here na ons kyk.”

Sy sê sy kan mense nie oordeel na gelang van hoe hulle lyk nie.

Op ’n reis na Israel het sy geglo die Here sal haar oogtoestand genees.

“Hy het my egter gewys dat ek na klein wonderwerkies moet oplet en dit waardeer. Die Here het vir my daar gesê: Jy is genoeg.”

Sy het besef sy het nog haar stem en dat sy steeds kan doen waarvoor sy lief is.

Sy werk vanjaar reeds 20 jaar by RSG en saai deesdae van die huis af uit.

“My en my gesin se motto is eenvoudig: Ons pak een dag op ’n slag.”

Dit sou ons jare geneem het om die geld bymekaar te maak . . . maar die Aand van die sterre het dit vir ons baie vinniger moontlik gemaak.
– Francois van Heerden

You need to be Logged In to leave a comment.