’n Aand met musiek word beplan ter afsluiting van die gewilde radio-program “Sondag Serenade”.
Mario Lategan en ander Bloemfonteinse kunstenaars sal gaste op Saterdag 1 Junie in die elegante Coco C in die Loch Logan-waterfront vermaak.
Mario het op Sondag 12 Mei die laaste keer sy radioprogram “Sondag Serenade” op Radio Rosestad aangebied en sluit die program af met ’n vertoning wat van die gewildste liedjies op die program insluit.
Saam met hom op die verhoog is Ella Kotze en Thabo Hlongwane.
Die musikante van Tango Etc. Elsabé Raath (altviool), Anmari van der Westhuizen (tjello) en Petro Engelbrecht (klavier en trekklavier) begelei die sangers en speel self ’n paar nommers.
“Dit gaan sommer net ’n lekker nostalgiese kuier wees.
“Musiek vat ’n mens mos terug na goeie tye,” sê Mario.
“Luisteraars wat die afgelope paar jare graag na die program geluister het, maar ook elkeen wat ’n liefde het vir pragtige musiek en lekker samesyn het, sal die aand baie geniet.”
Van die liedjies op die program sluit in “La Paloma,” “Nessun Dorma,” “Granada,” “Shostakovich Waltz,” en “Some Enchanted Evening.”
Saam met die musiek gaan gaste bederf word met ’n verwelkomingsdrankie, smaakvolle peuselhappies en wyn.
“Kom kuier saam op hierdie nostalgiese reis en groet saam met my ‘Sondag Serenade’ op ’n musikale noot,” nooi Mario.
Kaartjies kos R450 en is by phoenix.co.za of by 082-824-5507 beskikbaar.