“Vanjaar se program is saamgestel om aan elke feesganger en kaartjiekoper iets te bied: Jy kan bloot kom ontspan by die feesterrein; of jy kan jouself verloor in die allermooiste musiekteater; skaterlag vir komedies; besin oor waar ons as unieke Suid-Afrikaanse samelewing ons bevind; saampraat tydens ons gesprekke of in verwondering staan voor ’n kunswerk.”
Só beskryf Alexa Strachan, uitvoerende hoof, die ervaring wat die Momentum Beleggings Aardklop Nasionale Kunstefees op feesgangers wag.
Die fees, wat vanjaar van 3 tot 8 Oktober aangebied word, vind weer volledig in Potchefstroom plaas ná die ontwrigting van die Covid-19-pandemie.
Kaartjies is van vandag af te koop.
Gaan na ticketpros.co.za vir feeskaartjies. Dit is ook te kry by die Aardklopkantoor by The Roots, of by die ingangshekke na die fees. Geen kontant sal by ingangshekke aanvaar word nie.
Dagkaartjies kos R50 en weekkaartjies R150. Kinders jonger as 12 kry gratis toegang.
Die volledige program is by aardklop.co.za beskikbaar.