Daar word dikwels gesê dat die Hoërskool Adamantia ’n unieke skool in Kimberley is.
Dié skool is een van die min slegs Afrikaansmediumskole in die stad en is ’n mediumgrootte skool met slegs 600 leerders.
Adamantia het in die afgelope paar jaar stelselmatig uitgebrei en het nou die maksimum aantal leerders wat die skool kan inneem, bereik.
Die skool beskik oor ervare onderwyspersoneel. Die onderwysers ken al die leerders, en persoonlike aandag word aan elkeen gebied. Die onderwysers se vakkennis is van ’n hoë gehalte en uitstekende uitslae in die matriekeindeksamen word in die onderskeie vakke behaal.
Die leuse “Werk en dien” word ten volle uitgeleef.
Die skool bied gasvryheidstudies aan, wat basiese opleiding in kookkuns – van eenvoudige tot gesofistikeerde geregte – behels. Van gr. 8 tot gr. 12 is daar deurgaans opleiding in kulinêre studie om kennis in die samestelling van spyskaarte te verbreed. Leerders ontvang ook opleiding in kelnerdiens in die verskillende bedienstyle wat in restaurante ingespan word.
Blootstelling aan leierskap in verskillende poste in die hotelbedryf vind deurgaans plaas. Entrepreneurskap word hierdeur aangewakker en bevorder.
Die skool het ’n betrokke beheerliggaam wat oor verskeie vaardighede beskik wat tot die suksesvolle bestuur van die skool bydra.
Op sportgebied bied die skool aan elke leerder die geleentheid om sy of haar volle vermoë te bereik. Leerders ontvang erkenning wanneer hulle in enige sportsoort presteer. Hier kry elke leerder die geleentheid om aan provinsiale proewe deel te neem.
Die Hoërskool Adamantia staan ook nie op kultuurgebied terug nie. Leerders kan aan redenaars, drama, landsdiens en verskeie ander kultuuraktiwiteite by die skool deelneem.
Adamantia bied verskeie gesellighede jaarliks aan, waarvan die Plaaswerf-ete in Oktober die hoogtepunt op die kalender is.
Dit is vir elke Addie ’n fees om hier te wees.