Aerial vang nuwe storielyn op

Dit is weer tyd vir skaterlag met plaaslike vermaak uit die pen van Xander Steyn.


Dit is weer tyd vir skaterlag met plaaslike vermaak uit die pen van Xander Steyn.

Hy sê self dit is net hy wat mal genoeg is om twee produksies per jaar met sy 100 studente te doen.

Xander skryf ou feëverhale (en nuwes) in sy eie styl met ’n eg Suid-Afrikaanse geur. Dit is so reg in die genre van ’n prettige pantomime – met vrolike saamsing-liedjies en kwinkslae om elke hoek en draai.

Die teks vir sy nuutste produksie The Little Loud Mermaid is 90% Engels met ’n paar komiese Afrikaanse sinnetjies.

“Die akteurs is almal plaaslik en dis ’n lekker platform vir gemeenskapsteater – enigiemand kan deel raak en Bloem het soveel onontgunde talent,” sê Xander.

“Ek leef vir hierdie heerlike produksies. Teater help kinders en volwassenes met sosiale interaksie, beweging, selfvertroue, openbare redevoering, koördinasie en ’n lys goed wat goed is vir jou.”

The Little Loud Mermaid vertel die storie van ’n klein meermin wat gebore is met ’n antenna op haar kop (ja, dis nou Aerial).

Sy het soms kortsluitings en dan gil sy oorverdowend hard. Gelukkig het sy een kosbare talent – ’n pragtige sangstem. Sy red prins Eric wat amper verdrink en raak smoorverlief op hom. Haar ses sussies is geskryf met inspirasie van ses bekende sangeresse Dolly Parton, Shakira, Ariana Grande, Billie Eilish, Cardi B en natuurlik die stadige een Britney Spears.

Bloemfonteiners wat al by een van Xander se vertonings was, sal weet daar is altyd ’n verassing of twee.

As jy nog nie een van sy skreeusnaakse vertonings gesien het nie is dit nou tyd.

The Little Loud Mermaid vind Vrydag (02/06) om 19:00 (hoërskoolakteurs – Groep 1), Saterdag (03/06) om 16:00 en 19:00 (laerskool-akteurs Groep 1 en 2) en Sondag (04/06) om 16:00 (hoërskool-akteurs – Groep 2) plaas.

Die hoofvertonings met die volwasse groep vind 8 Junie om 19:00, 9 Junie om 19:00 en 10 Junie om 16:00 en 19:00 plaas.

Alle vertonings is in The Rabbit Studio in Jock Meiringstraat 20, Parkwes (oorkant Eunice). Kaartjies kos R60 tot R100 en kan op rabbithouse.co.za/events of by deur gekoop word. Kaartjies by die deure is slegs kontant.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.