Die massapatrollie wat AfriForum-takke in Bloemfontein saam met ander vennote onderneem het.Foto: Verskaf


Gevaarlike wapens en dwelmpype is afgeneem tydens ’n operasie wat Vrydag, 14 Oktober, in Bloemfontein uitgevoer is.

AfriForum-buurtwagte in die stad het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie veiligheidsmaatskappye en -instansies ’n massapatrollie in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid op te skerp.

Dié aksie het omstreeks 20:00 begin en tot ongeveer 03:00 geduur.

’n Gesamentlike operasie deur AfriForum se lugvleuel, AfriForum se Sektor 3- en Sektor 5-takke, die GPF-sektor 3, ITR-sekuriteit en Bloemsec-sekuriteit is suksesvol in Kwaggafontein onderneem in ’n deel wat bekend is vir bosslapers en skuilplek vir ongewensde elemente. Verskeie gevaarlike wapens en dwelmpype is afgeneem.

Altesaam 120 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en 1 996 km is in 60 voertuie afgelê. Die hoofdoel van die patrollie was om sigbaarheid in die onderskeie gebiede te verhoog en sodoende misdaad teen te werk.

“Die Bloemfontein-buurtwagte, in samewerking met die polisie en ander veiligheidsinstansies, sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad hok te slaan en veiligheid te bevorder,” het Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir Bloemfontein, gesê. “Dit is belangrik dat gemeenskappe en organisasies handevat om misdaad te bekamp. Die verhoogde sigbaarheid in die betrokke buurte speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind.”

You need to be Logged In to leave a comment.