PE Express

Afriforum Jeug bekommerd oor NWU se ‘stilswye’ na “Kill the Boer” dreunsang-insident op Potch kampus

NWU Logo

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se hantering van die onlangse sing van die “Kill the Boer”-dreunsang op die Potchefstroomkampus is volgens AfriForum Jeug uiters kommerwekkend.

‘n Video-opname van die voorval waarin ‘n man, vergesel van twee ander mans, Kill the Boer gesing het verlede week by koshuise op die Potchefstroom kampus.

Volgens ‘n verklaring wat deur AfriForum Jeug vandag uitgereik is, is ’n vergadering wat vandag sou plaasvind met NWU-verteenwoordigers oor die sing van dié dreunsang weer eens op kort kennisgewing uitgestel. Dit is reeds die tweede keer wat die universiteit die vergadering wat met AfriForum Jeug versoek is, uitstel.

“Gepaard met die NWU se versuim om die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang in die openbaar te veroordeel, stuur die jongste uitstel ’n duidelike boodskap dat die universiteit geen erns het om studente se bekommernisse oor die dreunsang ernstig op te neem nie,” aldus die verklaring.

“AfriForum Jeug het verlede week ’n formele skrywe aan die visekanselier van die NWU gestuur om te versoek dat die universiteit die sing van hierdie dreunsang in die openbaar moet veroordeel én dit op die universiteit se kampusse verbied. ’n Week later het AfriForum Jeug nog nie eens erkenning van ontvangs van hierdie brief ontvang nie.

“Die NWU het geen verweer teen die feit dat hy al vir ’n week lank wik en weeg of hy die sing van “Kill the Boer” wil veroordeel. Studente moet in ’n omgewing studeer waar hul veiligheid gerespekteer en hul vrese gehoor word. Die NWU behoort nie wegskram van verantwoordelike en morele optrede teen die sing van hierdie dreunsang nie,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling van AfriForum Jeug.

Louis Jacobs, NWU woordvoerder sê die kommentaar soos deur die NWU gelewer verlede week staan. “Die ondersoek duur voort en gaan dit nie vooruitloop nie,” het Jacobs gesê.

Intussen het AfriForum Jeug ’n petisie van stapel gestuur waarin duisende studente reeds hulle teenkanting teen die sing van dié dreunsang uitgespreek het.

You need to be Logged In to leave a comment.