AfriForum se Bloemfontein-takke het die nuwe jaar op ’n hoë noot begin deur vier volhoubaarheidsaksies in Bloemfontein te begin en voort te sit.
Dié nuwe projekte fokus op Du Plessisstraat in Langenhovenpark en ’n groot gedeelte van Nelson Mandelarylaan, Curielaan sowel as die parkie in Gardeniapark in Orchidstraat.
Saam met hierdie aksies hou die Bloemfontein-takke deurlopend die Ou Presidensie, Brits-monument en President Brand-begraafplaas se tuine instand. Verder gaan dié takke met hul volhoubare vullisverwydering-inisiatief voort waarby die publiek kan aansluit om hul vullis te laat verwyder.
“AfriForum se Bloemfontein-takke is trots daarop om Bloemfontein skoon te hou en ons erfenis te beskerming met die instandhouding van verskeie historiese monumente,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder van Bloemfontein. “Hierdie aksies dra ook by tot die bevordering van veiligheid in ons gemeenskappe aangesien swak instandhouding misdadigers die geleentheid kan gee om in beboste velde weg te kruip.”
Hy sê AfriForum is dankbaar vir ondernemings en lede van die gemeenskap wat help om Bloemfontein skoner en veiliger te maak.
“Ons sal graag meer projekte wil aanpak en moedig ondernemings aan om ons te kontak indien hulle soortgelyke inisiatiewe wil ondersteun,” sê Groenewald.
“AfriForum se vullisverwyderingsdienste is op 1 September 2020 begin omdat die Mangaung-metro versuim het om hierdie basiese diens te verrig. Talle AfriForum-lede sowel as nie-lede maak reeds van hierdie vullisverwyderingsdiens gebruik.”
Lede van die gemeenskap word aangemoedig om aan te sluit sodat hul gemoedsrus kan hê en weet dat hul vullis betyds verwyder sal word.