AfriForum het vandag teruggekap na die Mangaung-metro wat hom kritiseer oor die stigting van sy privaat-brandweerdiens in Bloemfontein.
Dit kom nadat AfriForum se nuutgestigte brandweerspan vandeesweek twee brande geblus het nadat die inwoners nie die metro se brandweerdiens in die hande kon kry nie.
Volgens AfriForum is 19 oproepe na die Mangaung-oproepsentrum gemaak om ’n huisbrand in Uitsig asook ’n brand op ’n vullishoop in ’n tuin aan te meld, waarop die inwoner die stryd gewonne gegee het. AfriForum se privaat-brandweerdiens is toe ontbied en was binne enkele minute op die toneel was en het daarin geslaag om die brand wat in die huis se dak ontstaan het, spoedig te blus.
Die Mangaung-metro het die vestiging van AfriForum se privaat brandweerdiens vroeër vandeesweek in die media gekritiseer en onder meer aangevoer dat die diens “onwettig” is. Die metro hou ook vol dat daar woede is oor AfriForum se sogenaamde “arrogansie” waarmee die indruk gewek word dat die brandweerdiens “nie meer in staat is om ’n behoorlike diens te lewer nie”.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-metro, sê daar is soms probleme met die landlynnommers. “Wanneer drie oproepe gelyk deurkom, klink die foon beset.” Hy sê egter daar is drie mense in die oproepsentrum wat oproepe hanteer.
“Die vier van Mangaung se sewe brandweerstasies wat operasioneel is, werk volsterkte,” sê hy. “Ons het ook nou nuwe toerusting gekry sodat ons makliker veldbrande kan bestry.”
Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, sê ten spyte van dié kritiek vanaf die metro, gaan AfriForum voort met sy brandweerdiens. “Die Uitsig-brand het bloot die dringende behoefte aan die diens wat AfriForum nou aan lede en inwoners van Bloemfontein in die algemeen bied, beklemtoon. In hierdie spesifieke geval kon die Mangaung-brandweerdiens nie die pyp rook om die nodige nooddiens aan inwoners te bied nie,” beklemtoon sy. “Ons nooi egter alle betrokke rolspelers uit om met ons hande te vat om die gemeenskap in Bloemfontein sterker én veiliger te maak,” verduidelik Cooks.
Sy sê AfriForum se selfdoenbenadering is in die belang van die gemeenskap en word gekenmerk deur selfdoenaksies en -projekte. “AfriForum se brandweerdiens vorm deel van hierdie baanbrekerswerk en die toenemende aantal selfdoensuksesse van die organisasie in Bloemfontein. Deur ons privaat brandweerdiens, nege buurtwagte, nege toegewyde takke wat alles doen van slaggate vul tot infrastruktuur herstel, ’n uitgebreide radionetwerk wat die hele Rosestad dek, ’n wêreldklas-veiligheidsbeheerkamer en batebeskermingseenheid en groeiende vullisverwyderingsvermoë, sal AfriForum onbeskaamd voortgaan om te veg én bou waar dit nodig is,” sluit Cooks af.
- Besoek www.afriforumbrandweer.co.za vir meer inligting oor AfriForum se gratis brandweerdiens aan lede van AfriForum. Van Zyl sê die nommers vir Mangaung-brandweer is 051-409-6666 of 051-409-9600 of die Vocadacom-nommer 107.
- Besoek www.afriforumbrandweer.co.za vir meer inligting oor AfriForum se gratis brandweerdiens aan lede van AfriForum. Van Zyl sê die nommers vir Mangaung-brandweer is 051-406-6666 of 051-409-9600 of die Vocadacom-nommer 107.