Afrikaans is die geur van moerkoffie en varsgebakte melktert, die naghemel in die Karoo of die golwe van Bloubergstrand.
Afrikaans is snoek en patat. Afrikaans is die dans van ’n riel of ’n tiekiedraai uit pure plesier. Afrikaans is almal s’n wat dit praat. Of dit jou moedertaal, jou eerste of selfs derde taal is, dis joune.
Op 8 Mei vier Afrikaans Amptelik 100 ’n mylpaal in die lang en kleurryke geskiedenis van ons taal: die eeufees van Afrikaans as amptelike taal.
René Arendse, nasionale adjunk-koördineerder van Afrikaans Amptelik 100, sê ’n groot makietie word beplan en almal is genooi.
“Dis die eerste van sy soort en jy kan dit nie misloop nie.”
Op 8 Mei begin die groot vieringe in die Wes-Kaap met ’n feesprogram in die Bo-Kaap, Genadendal en by die Taalmonument in die Paarl.
Van 22 tot 25 Mei 2025 gaan die vieringe na Gauteng waar die feesviering in Pretoria voortgesit word met teaterproduksies op 28 en 29 Mei.
Die vieringe oor die land heen sluit musiekkonserte, ’n voedsel- en wynfees, skolekompetisies, boekbekendstellings en gedenklesings in.
Vir die res van die eeufeesjaar gaan daar teaterproduksies, koorwerke en seminare onder die Afrikaans 100-vaandel landwyd opgevoer en gehou word om sodoende die kleurryke laslappie-taal se diversiteit saam met sy sprekers te vier.
Lank voor 1925 was daar reeds die geboorte van ’n taal met wortels van die Kaap tot in Griekwaland, van Arabies tot Nederlands.
Selfs ná 1925 het die taal bly groei en die huis soveel meer kamers gekry waar almal welkom is.
Arendse sê Afrikaans is onlosmaaklik deel van Suid-Afrika. Maak nie saak watter een van die land se 12 amptelike tale jy praat nie – iewers is Afrikaans deel daarvan.
Aitsa, eina, laaitie en lekker. Braai, biltong, pap en wors. Babelaas, haibo en ghoema. Sê-goed en leenwoorde wat eie aan Afrikaans is en wyd gebruik word.
Awê, dis waar!
“Afrikaans Amptelik 100 se eeufeesjaar gaan egter oor meer as net partytjie hou. Impakprojekte saam met vennote en medewerkers sal verseker dat ons ’n nalatenskap agterlaat van ’n taal wat vriendelik, volhoubaar en toeganklik is,” sê Arendse.
Arendse sê die gemeenskap word genooi om betrokke te raak.
“Is jy betrokke by ’n skool, organisasie, besigheid of klub, en wil graag julle eie viering in die feesmaand tussen 8 tot 31 Mei aanbied? Laat weet ons by info@afrikaans100.org en ontvang ’n amptelike partytjiepakket met idees en grafiese ontwerpe wat digitaal afgelaai kan word.
“Julle eie logo sal op ons webblad gelaai word, jul foto’s word deel van die Afrikaans Eeufees-jaarboek en jou naam is in die gelukkige trekking vir ’n kans om R10 000 te wen. Die wenners sal in Junie 2025 aangekondig word.