Afskeid wag ná leeftyd in een wentelbaan

Vriende wat ’n leeftyd in Bloemfontein gewoon het, trek een van die dae weg – en die tyd vir afskeid is naby.


Vriende wat ’n leeftyd in Bloemfontein gewoon het, trek een van die dae weg – en die tyd vir afskeid is naby.

Dis nie regtig ’n leeftyd nie, maar dis ’n tyd waarin geleef is.

Daar was studentedae van sorg- en doelloosheid.

Gesels tot sononder en filosofeer tot sonop. Spar toe drentel vir iets om op die balkon te braai en vir bruinuiesop om waaier-aartappels mee te maak en vir slaaigoed.

Dit was toe Robertsons se boepensbotteltjie semi-soet-witwyn net ’n bietjie oor die R20 gekos het en Mudd-plein nog ’n DVD-winkel én die juweel van M&M-boeke ryker was.

Na die ander kant toe, skuins oorkant die straat, was die kampus nie eens ’n volle 50 treë weg nie en klasdraf ’n heen-en-weertjie, sodat jy Donderdag as die eerste dag van die naweek kon benut en Vrydag-oggend se klas skuins ná 07:00 ’n ligte irritasie was, maar gou genoeg agter die rug sonder om momentum met ontspanning te verloor.

’n Mens het mekaar leer ken, jouself leer ken, en oornag weer alles oorboord gegooi vir dit wat jy gedink het jy behoort te word.

Saam het julle besluit watter werk elkeen sou doen, met wie jy jou lewe vorentoe gaan deurbring, hoe julle gaan woon, wat julle behoort aan te trek en lees en kyk en mee besig bly in die vrye tyd wat ’n mens jou verbeel jy gaan hê wanneer jy eendag groot is.

Saam-saam het julle in die volgende paar jaar geleer hoe net een uit tien dinge uitwerk soos jy gedink het, en hoe daardie een ding buitendien ’n manier kry om jou teleur te stel of te verras.

’n Mens het mekaar se familie leer ken, en vorige vriende, en saam vriende gemaak wat weer almal in hul eie wentelbaan beland het.

’n Mens het stories gemaak wat julle, tot jul oudag, saam met herinneringe aan dié vriende sal uitpak en afstof en blinkvryf en wegbêre totdat die verf daarvan later dungeslyt is.

Julle het getrek van meenthuis na woonstel na huis na meenthuis – weg van mekaar, maar altyd op mekaar se voorstoep in dié dorp van ’n stad.

Later was daar dae vol regte-egte werk, kantoorure wat beroepsure sou word, maar steeds aande sonder tal met musiekvertonings by die Aasvoëlklub, die Vrystaat Kunstefees, toneel in die Sand du Plessis.

Vrydagaande met wegneem-etes en wyn, nou van heelwat meer as R20, afgespreek as ’n vaste reëling om die wegholtrein van ’n bestaanmaak te besweer.

As ons vriendskap ’n mens was, gebore daardie tyd toe ons self kinders was, was hy nou ’n aweregse tiener van 16 jaar oud.

Ons kan hom seker die wêreld instuur, laat stap al langs die lang pad tot by die nuwe blyplek langs die see.

Hy sal dit seker haal?

Hy is sekerlik straatslim en astrant genoeg om te dink hy weet hoe die pad vorentoe lyk.

Buitendien, ons het hom versigtig grootgemaak, al was daar kere dat ons hom nie heeltyd onder oë kon hou nie.

Die mens is bevoorreg om van wentelbaan te kán verander, anders as ’n stomme satelliet.

You need to be Logged In to leave a comment.