Vir Carine Steenkamp (20) van Bothaville in die Vrystaat begin die lewe, soos die gewilde gesegde lui, presies daar waar die teerpad eindig en die Steenkamp-familieboerdery begin.
Dié gemengde saai- en bees-boerdery is die spil waarom Steenkamp se bestaan wentel, en sy meen dat dit ‘n groot voorreg is om dié roepingstaak saam met haar ouers te kan aanpak.
Ten einde haarself toe te rus om as jongboer ‘n aktiewe rol in die uitbouing en voortbestaan van die boerdery te help verseker, het Steenkamp vanjaar agter die boeke ingeskuif as ‘n tweedejaarstudent in die BCom- (Finansiële Beplanning) program by Akademia.
Sy pak hierdie studie via die na-uurse afstandsmodel aan.
Volgens Steenkamp kan sy die vaardighede en kennis wat sy in dié program leer prakties in haar daaglikse boerderybestuurspraktyke toepas terwyl die na-uurse afstandsmodel haar die beweegruimte bied om haar ten volle in die boerdery uit te leef.
“Ek kan, sonder om enige bykomende druk op myself te plaas, steeds bedags veilings en landbouskoue bywoon óf tot ná 19:00 saans op die plaas doenig wees,” verduidelik Steenkamp.
Akademia se Christelike inslag het die knoop vir Steenkamp as studietuiste deurgehak.
“As ‘n boer is jy baie afhanklik van die Skepper, en sy genade en
voorsiening rig elke dagtaak,” sê Steenkamp en voeg by dat dit vir haar belangrik was om haar studie op dieselfde geloofsfondasie voort te bou.
“Dit is natuurlik ook baie lekker om myself in Afrikaans verder te bekwaam en só my taal- en kultuurerfenis te omarm,” meen sy.
As jongboer is Steenkamp veral betrokke by die beesvertakking van die boerdery. In hierdie opsig wissel haar verantwoordelikhede van die versorging van die kalwers van die melkery, tot die administrasie van die geregistreerde vleisbeesstoet én die bywoon van en deelname aan verskeie landbouskoue.
“Ek het reeds op skool tot die besef gekom dat ek ‘n tipiese naguil is, en daarom is dit nie moeilik om saans agter die lessenaar in te skuif om aandag aan my studieverpligtinge te gee nie,” sê Steenkamp.
Sy verduidelik dat sy as deel van haar studieroetine elke aand tyd maak om ‘n hoofstuk in ‘n module te bestudeer, terwyl sy ook naweke gebruik om assesseringstake en voorbereiding te doen.
Steenkamp meen haar gunstelingmodule is finansiële en beleggingsbeplanning en dat dit vir haar lekker is om dit wat sy leer ook prakties in die boerdery te kan toepas.
Laasgenoemde vergemaklik die leerproses omdat Steenkamp meen dat sy terselfdertyd nuwe akademiese kennis én waardevolle praktyk-ervaring opdoen.
Dit is dan ook die rede waarom sy die instelling onomwonde sal aanbeveel aan ander wat hulself reeds in die werkswêreld bevind.
Steenkamp sluit af deur te sê dat sy, waarskynlik vanweë haar liefde vir boerdery, altyd gemotiveer word deur die gesegde wat lui dat jy moet blom waar jy geplant is.
“Niemand sê dat die lewe altyd net maklik gaan wees nie, maar jy het elke dag opnuut die keuse om te besluit of jy eerder op die onweerswolke gaan fokus óf op die reënboog van belofte,” sê Steenkamp.
Sy motiveer haar medestudente én diegene wat ‘n studiedroom koester om ook hierdie gesindheid in te neem, werk te maak van hul doelwitte en só die toekoms met hoop tegemoet te stap.
Indien jy soos Steenkamp wil werk of ander belangstellings nastreef terwyl jy studeer, woon Akademia se sentrumopedag in Bloemfontein op 16 en 17 Mei by, of doen vandag nog aansoek vir na-uurse afstandstudie in 2026. Besoek www.akademia.ac.za vir meer inligting.