Met internasionale toernooie wat binnekort begin, het die afgelope Desember-vakansie baie min rustyd vir Bloemfonteinse pluimbalspelers ingehou.
Die grootste doelwit vir die Vrystaatse internasionale speler Nita Scholtz-Albertse is om vir vanjaar se Olimpiese Spele in Parys te kwalifiseer.
Gauteng se twee Olimpiese hoopvolles vir die vrouedubbelspel, Deidre Laurens en Amy Ackerman, het ook in die vakansie vir twee weke in Bloemfontein kom oefen.
Die eerste groot uitdaging vir die spelers is die Afrika-kampioenskap in Egipte in middel Februarie, gevolg deur die Afrika-spele in Ghana, wat in Maart aangebied word.
Die Afrika-spele was veronderstel om in 2023 plaas te vind, maar is na Maart geskuif. Dit beteken dit is in die Olimpiese kwalifiseringstydperk, wat die twee toernooie ná mekaar van kardinale belang maak vir Olimpiese kwalifisering.
Die Suid-Afrikaanse internasionale kampioenskap hou vir die wenner 1 700 punte in, met die twee Afrika-kampioenskappe wat elk 4 000 punte werd is.
In gewone internasionale toernooie kan spelers van reg oor die wêreld inskryf, en dit maak die loting baie moeilik. Vir die Afrika-kampioenskap mag egter slegs spelers uit Afrika inskryf.
Scholtz-Albertse, wat reeds 13 060 Olimpiese punte het, is in ’n titaniese stryd gewikkel met ander Afrika-spelers om die beskikbare twee plekke op die Olimpiese Spele in haar afdeling. Die ander mededingers is Nour Ahmed Youssri van Egipte, wat nou 12 955 punte het; Kate Ludik van Mauritius met 12 950; en Fadilah Mohamed Rafi van Uganda met 13 060 punte.
Scholtz-Albertse gaan ook deelneem aan internasionale toernooie in Iran, Azerbajain en Uganda in Januarie en Februarie, ter voorbereiding vir die Afrika toernooie.
Dieselfde geld vir Ackerman en Laurens, maar hul geveg is om onder die top 50 pare in die wêreld te eindig vir kwalifisering, en daarom het hulle die vakansie saam met die Vrystaters in Bloemfontein geoefen.
Caden Kakora en Robert Summers is nog jonk, en hul hoofdoel is die 2028 Olimpiese Spele, maar hulle het realistiese kanse om die Afrika-kampioenskap te wen.
Albei van hulle is ook spelers wat in die enkelspel en dubbelspel kan speel.
Die spelers het die vakansie by Elmie Labuschagne van die Vrystaatse Sportwetenskapinstituut geoefen. Hulle het ook elke dag drie uur op die baan deurgebring.