Agt vas ná ontploffing by kitsbank in Bloemfontein

Agt verdagtes verskyn vandag in die landdroshof in Bloemfontein ná die voorval Saterdag waar ’n bom afgegaan het by ’n kitsbank in Bloemfontein en twee mans op die toneel raakgeskiet is.


Agt verdagtes verskyn vandag in die landdroshof in Bloemfontein ná die voorval Saterdag waar ’n bom afgegaan het by ’n kitsbank in Bloemfontein en twee mans op die toneel raakgeskiet is.

Die polisie het Saterdag om 00:47 inligting ontvang van die voorval by die Engen-vulstasie in McGregorstraat in Ooseinde.

Talle veiligheidsondernemings was voor die polisie se aankoms in skietgevegte met die vermeende rowers betrokke. Een man is met twee skietwonde op die toneel gevind en na ’n hospitaal geneem terwyl ’n veiligheidsbeampte ook in die skietvoorval getref is.

In ’n nuusverklaring sê lt.kol Thabo Covane, woordvoerder van die Mangaung-metro se polisiediens, dat daar met die blitspatrollie se aankoms op die toneel skote op die polisie geskiet is. Verdagtes het te voet van die toneel gevlug.

Volgens inligting het ongeveer 15 mans die OTM met ’n ploftoestel oopgeskiet en ’n onbekende bedrag geld gesteel.

Nadat die polisie inligting ontvang het, het hulle agt verdagtes in Namibia in Mangaung in hegtenis geneem en het hulle ook beslag gelê op ’n Kia-motor met ’n GP-registrasienommer waarmee die verdagtes glo van die toneel gevlug het.

Die polisie soek steeds na die ander verdagtes en die ondersoek gaan voort. Mense wat inligting het, kan inligting by 082-466-8530 of die polisie se Stop Misdaad-nommer 08600-10111 skakel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.