Daar is dalk lig aan die einde van die tonnel vir Suid-Afrikaners wat op hul rybewys wag.
Die masjien wat hierdie kaarte vervaardig – die enigste in Suid-Afrika – werk weer nadat dit in November die gees gegee het en in Duitsland herstel moes word.
Fikile Mbalula, minister van vervoer, het verlede week die staatsentiteit Driving Licence Card Account in Pretoria besoek waar die land se rybewyse gedruk word.
Volgens Mbalula gaan die personeel dag en nag werk om die agterstand in te haal.
“Die masjien is herstel en ons werk ook aan ons nuwe aanlyn stelsel,” het Mbalula in ’n video gesê wat hy op die sosiale media geplaas het.
Voordat die masjien onklaar geraak het, was daar reeds ’n agterstand met rybewyse aangesien toetssentrums weens die Covid-19-pandemie etlike maande gesluit was.
Die grasietydperk om rybewyse te hernu is gevolglik twee keer verleng, eers tot 31 Augustus 2021 en toe tot 31 Maart 2022.
Mbalula het verlede maand gesê hy is hoopvol dat die agterstand teen dié spertyd uitgewis sal word.
Die amnestie geld egter net motoriste wie se rybewys tussen 26 Maart 2020 (toe die ramptoestand in werking getree het) en 31 Augustus 2021 verval het.
Motoriste wie se rybewys nie in hierdie tydgleuf verval het nie, asook dié wat moet wag omdat die masjien onklaar geraak het, sal R90 vir ’n tydelike rybewys moet opdok. – Raymond Willemse