Die kinder- en jeugboekskrywers Jaco Jacobs en Fanie Viljoen, asook nog twee Bloemfonteiners, word vanjaar met die driejaarlikse pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer.
Jacobs het die Alba Bouwer-prys vir Kinderliteratuur vir sy boek Die boekwinkel tussen die wolke gewen. Slegs boeke wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is, kwalifiseer vir bekroning. Jacobs het die eerbewys ook in 2006 en 2019 ontvang vir onderskeidelik Wurms met tamatiesousen Moenie hierdie boek eet nie.
Die boekwinkel tussen die wolke gaan oor ’n baie spesiale boekwinkel, ’n plek vol towerkrag, waar wonderlike dinge kan gebeur. Die boeke wat daar te koop is, ruik na raaisels en avonture en dagdrome, en tussen die rakke wag ’n avontuur wat Ella se hele lewe gaan verander, as sy dapper genoeg is. Iemand probeer seker maak dat die boekwinkel sy deure sluit, maar Ella en haar vriende gaan dit nie toelaat nie.
Jacobs het die boek in die grendeltyd geskryf toe boekwinkels gesluit was omdat die regering boeke as nie-noodsaaklike artikels beskou het.
“Dit het my verstand te bowe gegaan,” sê hy.
“Boeke is so, so noodsaaklik, des te meer in uitdagende tye soos dié. Die boek is my klein huldeblyk aan elke boekverkoper wat kinders aan boeke bekend stel en hulle lief maak vir lees. Dit is vir my ’n groot eer om die Alba Bouwer-prys vir dié boek te ontvang en ek is opreg dankbaar.”
Miemie du Plessis, kinderboekuitgewer by Pan Macmillan Suid-Afrika, meen die eerbewys span die kroon op Jacobs se 21ste jaar in die kinderboekbedryf.
“Ek is sedert 2001 Jaco se uitgewer en ons was ook vir meer as ’n dekade kollegas. Destyds sou ons nooit kon droom hoeveel wonderlike boeke ons eindelik in kinders se hande sou plaas nie. Daar is geen beter manier om Jaco se mondigwording in die kinderboekbedryf te vier as met dié gesogte eerbewys vir ’n boek wat die bekoring van boeke en boekwinkels as tema het nie.”
Fanie Viljoen het die Scheepers-prys vir Offers vir die vlieëgewen. Die Scheepers-prys word elke drie jaar aan ’n Afrikaanse jeugboek in enige genre toegeken.
Prof. Hennie van Coller en prof. Hendrik Swart word ook vereer.
Van Coller, emeritus uitstaande professor en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), en buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sal die N.P. van Wyk Louw-medalje ontvang. Dit is om hom te vereer vir skeppende bydraes ten opsigte van die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing tot die bevordering van die geesteswetenskappe.
Swart, verbonde aan die departement fisika aan die UV, sal die Havenga-prys vir fisiese wetenskap ontvang. Swart het ’n belangrike rol gespeel in die verkryging van talle navorsingstoestelle vir die ontleding van dun fosforfilm en die halfgeleiertoestelle wat uit sekere materiale gemaak kan word.
Die pryse sal in Julie op ’n virtuele geselligheid aan wenners oorhandig word.