Daar wag vir oud en jonk binnekort groot vermaak op die verhoog.
Kinders (en hul ouers) kan uitsien na ’n feëverhaal vol kleur, avontuur, spanning en lekker lag met Xander Steyn se The Rabbit-teaterskool se vertoning van Peter Pan vroeg in Junie.
“My pen het weer lekker geskribbel met local en lekker teks,” sê Xander.
“Daar is swaardgevegte, hoendervleis-oomblikke met sang en musiek en natuurlik ’n feëtjie wat die magic bring. Selfs Peter Pan wat oor die mense se koppe vlieg.”
Peter Pan word as baba deur sy ma, Fiela, na ons wêreld gebring om hom veilig te hou teen Blackbeard wat Neverland onder sy mag het.
Peter word in ’n kinderhuis in Distrik 6 in Kaapstad groot. Die huismoeder laat toe dat die seerowers van Neverland die kinders steel om in die feetjiestof-myne te gaan werk. Hier ontmoet Peter vir James Hook en Smee.
Daar volg heelwat avonture saam met Peter en sy maats. Die volwasse akteurs is almal werkende mense wat vir hul eie plesier deelneem aan die pret op die verhoog.
Die hoofvertonings is op 2 en 3 Junie om 19:00 en op 4 Junie om 15:00 en 19:00. Toegang vir die vertonings is R100.
Die twee hoërskoolgroepe se vertonings is 5 en 12 Junie om 16:00 en dit kos R80. Die drie laerskoolgroepe se vertonings is op 11 Junie om 13:00, 16:00 en 19:00 en kaartjies daarvoor kos R50.
Kaartjies is op rabbithouse.co.za/events beskikbaar.