“Ek is groot op die klein dingetjies,” sê Lindie Strydom die afgelope naweek vir die gaste op Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) se kuieroggend.
Die aktrise wat as jongmeisie in die sepie Egoli naam gemaak het, is nou ’n deurleefde ma van ’n 19-jarige seun en 16-jarige tweeling-seun-en-dogter.
Sy is vol lewenslus en het haar reeds as spreker, skrywer en radiopersoonlikheid bekwaam.
Op die geleentheid wat op Saterdag 18 Mei by die Biker’s kerk in Groenvlei gehou is, is Strydom verras met die besoek van ’n mede-Egoli-akteur, Hennie Smith.
Trane van blydskap het spontaan gevloei met dié herontmoeting. Smith het dadelik gesê dat Strydom (47) nog presies lyk soos toe hulle laas saam in die sepie gespeel het. Smith wat die blomme vir Lindie se troue gedoen het, meer as 22 jaar gelede, het Sondag sy 81ste verjaardag gevier.
Hand-Aan-Hand het die reëlings vir die geleentheid ten bate van die VVA getref.
Plaaslike sanger, Jana Stolz het die gehoor met geestelike liedjies vermaak.
As aktrise het Strydom geleer om fyn op te let. Terwyl sy by lughawens of in winkelrye gewag het, het sy gesien dat mense nie meer van hul selfone of skootrekenaars opkyk nie. Daarom poog sy daagliks om meer op te kyk om ’n reënboog uit ’n vliegtuigvenster te sien.
Of ’n vreugdevolle Downsindroom jongman op te merk, wat haar inspireer.
Dit is maklik om die mooi en goeie te mis as jy konstant na die skermpie voor jou staar. Strydom het die gehoor aangemoedig.
“Daag op soos Jesus. Dit verg dapperheid. Begin bid vir ander. Help ander om van hulle tronksel ’n preekstoel te maak.
“Hou op raad gee, luister en los die quick fixes. Ons hoef nie die antwoorde te hê nie, ons moet net opdaag. Ons hoef nie die hele wêreld te verander nie, maak dit net beter waar jy is.”
Sy het afgesluit met: “Jesus laat Hom vind in enige plek, selfs in die skryfbehoefterak van Checkers.
“Gee vir iemand die geskenk van gesprek. Loop saggies in ander se swaarkry, dis heilige grond.”
- Die volgende geleentheid waar jy geldelik kan bydra tot die werk van die VVA is by NG kerk Pellissier wanneer Frank Opperman te sien is in die produksie, Reünie op Vrydag, 7 Junie om 18:30. Kos sal voor die vertoning verkoop word.
Kaartjies is R120 per persoon.
Skakel 078-321-7752 of 083-643-1868 vir meer inligting.