Kom swem saam, nooi lede van die Christian Motorcycle Association (CMA). Hulle is van links Donald Futter, Annelie Badenhorst en Warren Stevens. Foto: Lientjie Mentz


Bloemfonteiners wat iets vir die naweek beplan, moet dit liefs Saterdag doen met ’n kouefront wat teen Sondag inwoners behoorlik gaan laat bibber.

Die maksimum-voorspelling vir Saterdag is 19°C met die wind wat teen die middag ’n bietjie gaan pla. Die voorspelling vir die minimumtemperatuur vir Saterdag is 2°C.

Sondag kan ’n yskoue maksimum van slegs 11°C verwag word met temperature wat die aand tot -4°C kan daal. So maak seker die gasbottels is vol en hou genoeg antrasiet en kaggelhout gereed.

Om die koue so ’n bietjie te terg, bied Hospice Bloemfontein, Choc-huis en Aurora ’n Big Splash aan waarop deelnemers 50 m in Grey-kollege se swembad swem ten bate van dié liefdadigheidsorganisasies.

Deelnemers spring van 12:00 af in die water en die hekke open om 10:00.

Spanne van 5 elk betaal R200 vir deelname en besoekers en ondersteuners betaal R20. Zak Steyn tree op. Rig navrae by Marietjie Landsberg by 083-450-5427.

Bekende kunstenaar Martin Wessels se solo-uitstalling Baron von Kouga open Saterdag om 10:00 by Co-op Gallery in die Dan Pienaar Mall.

Balans-mark van 10:00 tot 14:00 by Sol Lifestyle Venue. Dit is in Chris Olivierweg 12, Groenvlei.

You need to be Logged In to leave a comment.