‘Algehele gemorsspul’

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het Maandag (27/06) die sweep in Bloemfontein geklap oor die Mangaung-metro se geïntegreerde openbare vervoernetwerk (IPTN) met sy Hauweng-busse, waaraan honderde miljoene rande al bestee is, maar nie loop ni


Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het Maandag (27/06) die sweep in Bloemfontein geklap oor die Mangaung-metro se geïntegreerde openbare vervoernetwerk (IPTN) met sy Hauweng-busse, waaraan honderde miljoene rande al bestee is, maar nie loop nie.

Hy het aangekondig hy het die “algehele gemorsspul” kom reg­ruk en saam met die nasionale tesourie KPMG se forensiese ondersoekers aangestel om die busprojek, wat die stad al tussen R700 miljoen en R1 miljard gekos het, te ondersoek.

“Die projek het vasgeval in beweerde korrupsie en nalatigheid wat nou ondersoek moet word,” het hy gesê.

“Die gemeenskap dink ons is ’n klomp skelms wat die geld gesteel het. As daar ongerymdhede was, sal die Valke ingeroep moet word om met die vervolging te help, en daar sal gevolge-bestuur wees,” het hy gesê.

“Die projek het in 2010 begin en in 2022 is daar géén resultate om te wys nie, terwyl dit in Johannesburg en in baie ander stede goed werk.

“Die pryse van die busse en die kontrakte in Mangaung is na bewering verhoog. Daar moet verslag gedoen word hieroor. Die infrastruktuur vir die busse, soos dié in Moshoeshoeweg en op ander plekke, staan onvoltooid. Daar gaan trouens niks aan nie.”

Hy het gesê die busprojek is ook opgehaal op pres. Cyril Ramaphosa se vroeëre besoek aan Bloemfontein en die tyd is ryp vir die forensiese ondersoek, wat in September voltooi sal wees.

Die Hauweng-busprojek sal in Oktober ingestel word en dit sal nie soos ’n “helikopter” wees wat skielik hier kom neerdaal nie. “Ons moet die projek red nadat dit in ’n ramp verval het,” het hy gesê.

Hy het gesê as al die geld wat die nasionale regering jaarliks vir die projek bewillig het nie alles in een jaar gebruik kon word nie, moes dit na ’n volgende jaar oorgedra word, maar dit het nie gebeur nie. “Geld het net verdwyn. Dit kan nie meer die normale verloop van sake wees nie.

“Ons sal ons moue moet oprol en die projek terug op sy spore moet sit. Van Bloemfontein af gaan ek Rustenburg toe, want daar is ook ’n probleem met die busdiens.”

Hy het gesê vennote soos die taxibedryf in Bloemfontein sal die nasionale regering moet help om die projek weer aan die gang te kry.

“Diegene wat verkeerde dinge gedoen het, moet hulle vir oranje oorpakke regmaak. Die hele busprojek in Bloemfontein het in duie gestort.”

Mbalula en sy gevolg is toe in ’n vloot ampsmotors met blou ligte en drie Hauweng-busse vol mense na twee vervalle projekte in Moshoeshoeweg.

By projek A is Mbalula ingelig dat ’n tender vir R40 miljoen aan ’n kontrakteur toegeken is om ’n deel van die straat vir die busprojek te verbreed. ’n Ander kontrakteur het die projek met ’n hooggeregshofbevel gestop, waarna die hof in die metro se guns beslis het. Daarna is die projek deur kleiner groepe gestop wat as subkontrakteurs ’n 10%- of 30%-belang daarin wou hê. Die kontrak met die oorspronklike kontrakteur is intussen beëindig en ’n nuwe kontrakteur word aangestel.

Die konvooi het hierna na die B-gedeelte van die Moshoeshoeweg-projek van R58 miljoen gegaan. Altesaam R30 miljoen van die R58 miljoen is hier bestee om 2,3 km van die pad te verbreed, maar min het nog gebeur.

By die busdepot wat gebou word, is ook probleme, het Mbalula gesê. “Ons kan nie voortgaan om Mangaung se busdiens op ’n karkas van verkeerde dinge en korrupsie te bou nie.”

Mokgadi Kganakga, ’n DA-raadslid wat dit bygewoon het, meen die skielike stappe is ’n verkiesingsfoefie vir 2024.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.