Verbeteringe wat binnekort by die Maselspoort-watersuiweringsaanleg aangebring word, gaan daartoe lei dat heelwat meer water aan die noorde van Bloemfontein gelewer kan word sonder die gereelde onderbrekings wat nou ondervind word.
Die metro se burgemeester, Gregory Nthatisi, het Woensdag by Maselspoort meer inligting gegee oor die R130 miljoen se opgraderings wat binnekort hier gaan begin.
Sello More, stadsbestuurder, sê die opknapping gaan in drie fases plaasvind.
Die aanleg, wat water aan die netwerk in die noordelike woonbuurte van die stad verskaf, het die afgelope tyd baie onderbrekings en vuil water opgelewer.
Die eerste fase is die verbetering van die betroubaarheid en kapasiteit van die bestaande aanleg.
More sê die tweede fase behels die opknapping van die aanleg om 60 megaliter per dag te lewer. Daarop volg ’n fase waarin die aanleg vergroot sal word om 130 megaliter per dag te lewer.
Rossouw Botes, die DA se woordvoerder oor watersake in die metro, sê die verhoging van die aanleg se kapasiteit sal die Mangaung-metro sowat R250 miljoen spaar omdat minder water dan van die Vaal Sentrale Waterraad gekoop hoef te word. Die raad verskaf water aan die suidelike voorstede, die middestad en ’n groot deel van die ooste van die stad.
’n Afvaardiging van die DA het op Donderdag 8 Februarie met More vergader. Op dié vergadering het More hom tot die verbetering van die Maselspoort-aanleg verbind, asook die bou van die Pellissier-reservoir, waarvoor Botes hom al jare lank beywer.
Botes sê die besluit om die Pellissier-reservoir te bou, sal waterverskaffing aan dié woonbuurt, asook die suide van Bloemfontein, verbeter. Hy sê Pellissier, wat die naaste aan die Vaal-Sentrale Waterraad geleë is, was sedert 4 April 2018 vir 162 dae sonder water. “As ’n mens dit gaan uitwerk, was die mense van dié woonbuurt in dié tyd omtrent elke 13 dae sonder water.”
Botes het in 2021 ’n versoekskrif met 1 003 handtekeninge aan die metro oorhandig en ook drie verslae aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur.
More sê die uitvoerbaarheidstudies en voorlopige ontwerpe vir die Pellissier-reservoir is in dié geldjaar se begroting ingesluit. Altesaam R1 miljoen is daarvoor begroot.
Intussen het die metro begin om die reservoirs in die noorde van die stad skoon te maak.
’n Reservoir by Maselspoort is skoongemaak en die Hamilton-reservoir aan die voet van Naval Hill is ook teen Dinsdag skoongemaak.
More sê die opknapping by Maselspoort behels onder meer sandfilters, suiweringstelsels en beter chemiese en chloreerstelsels, wat watergehalte sal verbeter.
Hy sê daar is oor verskeie geldjare vir opknapping van die Maselspoort-waternetwerk begroot, en ’n sakeplan is aan die Nasionale Tesourie voorgehou om bykomende geld te versoek.