Allemanskuns skep skatte

Hulle het hartjies en blomme teen ’n betonmuur onder ’n brug geteken.


Hulle het hartjies en blomme teen ’n betonmuur onder ’n brug geteken.

Só skryf ’n kunstige vriendin op Facebook.

Sy was geensins alleen nie.

Gesinne en ander groepe mense van oor die stad heen het Saterdag die pilare onder Benaderylaan in Montgomery­straat geverf.

Dié wonderlike projek om iets leliks in ’n kunswerk te omskep is die gedagte van plaaslike kunstenaar Liesel Wessels. Sy hoop om daarmee ’n oulike plek te skep waar Bloemfonteiners graag gaan foto’s neem – boonop ’n spesiale toeriste-aantreklikheid vir Bloemfontein.

Liesel het die eerste gedeelte van dié projek al in April begin en almal genooi om dit die naweek uit te brei. Kinders het met oorgawe geverf en studente kon hiermee hul kreatiwiteit ’n stappie verder vat.

Dít weerskante van die eens morsige vuil treinspoor. Waar gevaarlike, gebreekte bottelstukke oral tussen die gruisklippe ’n bedreiging vir knieë inhou.

’n Aaklige plek is verander in iets besonders – boonop met die hulp van flukse manne wat die gemors opgetel en die omgewing skoner gemaak het.

Teen die verste helling is duidelike tekens dat mense saans daar slaap en vuurmaak. Dis vuil en morsig, maar die vuil word met kuns bietjie-vir-bietjie weggestoot.

Ek raak aan die gesels met ’n dosent in kuns. Sy sê navorsing het bewys dat waar kuns die mure versier, mense se houding verander. Hulle begin na hul omgewing omsien.

Nie lank gelede nie het ek ’n reisprogram gesien van die Brit Joanna Lumley wat onder meer na Berlyn gereis het. Sy het dié stad in Duitsland voorgestel as ’n mekka vir mense wat vry­denkend is en kuns in verskeie vorme beoefen en waardeer. Van ongelooflike hoede, tot dele van die Berlynse muur wat nou kunswerke vertoon.

Sy het onder meer een besonderse plek besoek: ’n vervalle gebou in Berlyn waar vlugtelinge uit ander lande bly. Dié gebou het mettertyd in ’n byderwetse muurkunsgalery ontwikkel, en vandag bly die vlugtelinge in die gebou tussen muurkuns in alle vorme.

Die kuns is meestal vreemd en abstrak, maar daar is lank nie meer die lelike binnemure van ’n afgryslike gebou nie.

Met ons brug wat nou ook ’n kunswerk word, besef ek daar is hopeloos te min kleur in Bloemfontein. Ons het meer plekke nodig wat met kwas en helderkleurige verf opgehef word.

Dink aan die ongelooflike Sotho-kunsvorm ditema, wat deesdae grootliks verlore gaan.

Vroeër jare het ’n mens dit oral in die Oos-Vrystaatse platteland gesien – huise waarvan die mure in vrolike en kleurvolle vorms geverf is; mure wat met objekte soos vurke en kamme patrone kry ná ’n nuwe laag klei.

’n Paar jaar gelede het ’n klompie inwoners van die Vrystaatse dorp Paul Roux die kuns in die township laat herleef.

Ek wens kleur en kuns was meer sigbaar in ons vaal winterlandskap. Ek wens gewone mense wil kuns omarm as iets wat nie net deur ervare mense geskep word nie. Ongeag of dit beeldende kuns of musiek is.

Ons moet meer leef, uitleef en geniet. Elke dag is ’n kans om iets te skep. Iets kleins soos ’n oulike blombakkie in die winterson, of iets groots soos om ’n vaal muur op ’n unieke manier te versier.

Met kleur en kuns moet elkeen die wêreld om ons mooi maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.