Alles agtermekaar vir massa-saamtrek by Bloemfontein

Die laaste voorbereiding vir die Time2RiseSA-saamtrek wat die naweek op die Wilde Als-plaas buite Bloemfontein plaasvind, word nou gedoen.


Die laaste voorbereiding vir die Time2RiseSA-saamtrek wat die naweek op die Wilde Als-plaas buite Bloemfontein plaasvind, word nou gedoen.

Dr. Arno van Niekerk, een van die organiseerders, sê daar is mense van oor Suid-Afrika heen wat die byeenkoms buite die stad gaan bywoon.

“Ons glo hierdie byeenkoms gaan mense aanraak om die land te verander. Ons hoop op geestelike herlewing vir almal wat die naweek daar gaan wees,” het hy vandag op die terrein waar die saamtrek plaasvind, gesê.

Tente word die afgelope week opgeslaan waar verskillende aktiwiteite deur die loop van die naweek gaan plaasvind.

Die byeenkoms begin môre om 16:00 met ’n braaigeleentheid op Wilde Als. Braaigeriewe sal beskikbaar wees en gaste bring hul eie vleis en bykos, asook drinkgoed en stoele.

Gassprekers op die geleentheid sluit in Zane Meas, Rooies Strauss, Chris Mathebula, dr. Pearl Kupe en John Mathuhle.

Saterdag se bedrywighede begin om 08:00 met ’n nagmaal en voorbidding op die koppie by Wilde Als. Gaste moet hul eie nagmaal-benodigdhede saambring.

Praatjies deur ’n wye verskeidenheid gaste word deur die loop van Saterdag aangebied.

Van Niekerk verduidelik daar gaan ook die middag strategiese gespreksgeleenthede wees waartydens mense in groepe oor onderwerpe soos die ekonomie en landbou sal kan gesels om na oplossings vir uitdagings te soek.

Hy sê daar is nou sowat 200 verteenwoordigers van Time2RiseSA oor die land heen wat saam na oplossings soek om verarmde gemeenskappe hoop te gee.

“Een so ’n suksesvolle projek is die groentetuine in Heidedal,” verduidelik Van Niekerk.

“Daar is ook wonderlike projekte in Senekal en Howick.

“Ons wil sakelui en kerke by projekte betrokke kry waar daar ’n wedersydse voordeel vir die organisasie en die gemeenskap waarin dit geleë is, kan wees.”

Hy sê daar gaan ’n feesatmosfeer heers. Mense word ook genooi om piekniekmandjies te pak en saam te bring. Daar sal ook water en kos te koop aangebied word.

Nog ’n Bloemfonteiner, Marzanne Slabbert, koördineer ’n uitstalling van profetiese kuns wat in ’n tent op die feesterrein gesien kan word.

Sy het kreatiewe kunswerke van 23 profetiese kunstenaars uit nege provinsies versamel wat die naweek uitgestal word, en van hulle gaan ook demonstrasies op die geleentheid doen.

“Mense is welkom om na die uitstalling te kom kyk. Die kunswerke is visuele uitbeeldings van wat God vir die verskillende kunstenaars gewys het,” sê Slabbert.

Saterdag om 16:00 gaan gaste weer saam vleis braai, waarna die geleentheid voortgesit word met hoofregter Mogoeng Mogoeng wat die hoofrede gaan lewer.

Die naweek word Sondag afgesluit met ’n geleentheid waarop kort boodskappe deur verskeie sprekers gelewer gaan word.

Gaste word gevra om hulle op die webwerf Time2RiseSA.co.za te gaan registreer.

Toegang tot die fees is gratis. Almal moet net stoele en sambrele teen die son saambring.

Die geleentheid gaan ook op die webwerf gestroom word.

You need to be Logged In to leave a comment.