Maandag (01/11) is tot ’n openbare vakansiedag verklaar sodat geregistreerde kiesers hul kruisies by stempunte kan trek.
In dié plaaslike verkiesing moet mense gaan stem waar hulle geregistreer is.
’n Identiteitsboekie of -kaart moet getoon word.
Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se webwerf en Facebook-blad sal kiesers wat in ’n plaaslike munisipaliteit woon, drie stembriewe in drie verskillende kleure ontvang:
* wit en grys (’n wykstembrief om te stem vir die wyksraadslid wat jou op die plaaslike raad moet verteenwoordig);
* geel (die politieke party-stembrief om te stem vir die politieke party wat jou op die plaaslike raad moet verteenwoordig); en
* groen (die politieke party-stembrief om te stem vir die politieke party wat jou in die distriksmunisipaliteit moet verteenwoordig).
Diegene wat in ’n metro-munisipaliteit stem, ontvang nie die groen stembrief nie.
Kiesers moet seker maak dat elke stembrief wat ontvang word, ’n stempel op die agterkant het.
Die stempunte sal Maandag van 07:00 tot 21:00 oop wees.
Mense wat suksesvol vir ’n spesiale stem aansoek gedoen het, sal Saterdag (30/10) en Sondag (31/10) hul kruisies kan trek.
Covid-19-maatreëls geld
Die OVK het bevestig dat voorsorg getref is om die moontlike verspreiding van Covid-19 te beperk.
* Kiesers, asook alle mense wat by die stempunt werk, moet gesigmaskers dra.
* Skryfbehoeftes en oppervlakke sal ontsmet word, maar kiesers word aangemoedig om hul eie swart pen saam te neem.
* Sosiale afstand moet te alle tye gehandhaaf word.
“Vry en regverdig”
Die OVK versoek elke kieser om tot die vryheid en regverdigheid van die verkiesing by te dra.
* Mense word versoek om nie by ’n stempunt te probeer stem waar hulle nie geregistreer is nie.
* Niemand mag meer as een maal stem nie, en kiesers word aangemoedig om dit nie eens te probeer nie.
* Mense word versoek om nie voor te gee om ’n OVK-amptenaar, ’n verteenwoordiger van ’n geregistreerde politieke party, ’n verkiesingskandidaat of ’n gemagtigde waarnemer te wees nie.
* Niemand mag ’n kieser onderbreek terwyl hy met die stemproses besig is nie.
* Geen selffoto’s, foto’s van die kiesers of foto’s van die ingevulde stembrief mag geneem word nie.
Vind meer uit
Diegene wat meer oor die stemproses wil weet, kan die nommer 0600-88-0000 op hul selfoon stoor en ’n WhatsApp-boodskap met die woord “Hi” na die nommer stuur.
’n Kieslys met onderwerpe oor die verkiesing sal verskyn, en mense kan die onderwerp kies waaroor hulle meer inligting nodig het.