Alles in plek vir tussenverkiesing in Wyk 47 in Mangaung-metro

Die munisipale tussenverkiesing in die Mangaung-metro se wyk 47, vind Woensdag 29 November plaas.


Die munisipale tussenverkiesing in die Mangaung-metro se wyk 47, vind Woensdag 29 November plaas.

Die wyk, bestaande uit die hoewegebiede wat Estoire, Roodewal en dele van Heidedal insluit, moet ’n nuwe raadslid kry nadat die DA se Mokgadi Kganaka uit die DA en as raadslid bedank het.

Sy is in 2019 verkies nadat nog ’n DA-raadslid John de Bruin bedank het.

Kganaka het haar ondertussen aangesluit by die nuutgevormde party Rise Mzanzi en dien as sameroeper van die party in die Vrystaat. Sy staan nie as kandidaat in die wyk namens Rise Mzanzi nie, maar het kort na haar bedanking aan Bloemnuus gesê dat sy nou in dié rol fokus op die 2024-verkiesing.

Vyf kandidate het hulle beskikbaar gestel vir volgende week se tussenverkiesing in wyk 47. Dit is Morapelo Mpoihi (ANC), Rudi Maartens (DA), Motsamai Matsoso (EFF), Ernest Tobie (PA) en Pappie Mokoena (AASD).

’n Vorige tussenverkiesing in die metro is in Julie gehou met die ANC wat wyke 7, 29, 49 en 50 behou het.

Hierdie tussenverkiesings is gehou nadat sewe ANC-lede uit die raad geskop is nadat hulle gehelp het om die DA se Maryke Davies as speaker in die raad te verkies. Vier van die ANC-lede was wyksraadslede.

Die ANC het intussen ’n mosie teen Davies ingedien en sy is met die ANC se Lawrence Mathae vervang.

Kiesers van wyk 47 wat hul registrasies die naweek nagegaan het, sal weet waar die onderskeie stempunte vir die tussenverkiesing is.

Met die registrasieproses die afgelope naweek, het 46 369 kiesers hulle in die Mangaung-metro met die oog op die nasionale en provinsiale verkiesing in 2024 geregistreer. Daarvan was 8 215 nuwe registrasies en 14 756 mense wat sedert die laaste verkiesing verhuis het en nou in nuwe wyke moet stem.

Van die totale registrasies was 308 jonger as 18 jaar met die oog op verkiesings nadat hulle 18 jaar oud word, amptelike registrasies van kiesers tussen 18 en 21 jaar was 3 658 en registrasies van mense ouer as 21 jaar was 42 403 in die metro.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.