Talle oudstudente en dosente van die destydse Bloemfonteinse Onderwyskollege (BOK) trek die naweek in die stad saam vir ’n groot reünie.
Die reëlingskomitee, bestaande uit Tim Taylor, Emsie Muller en voormalige dosent dr. Carna Vorster, sê die reünie word aangebied vir almal wat sedert die beginjare tot 2003 aan die BOK studeer het.
Die BOK is in 1898 geopen en het in 2000 gesluit toe die studente na die Universiteit van die Vrystaat (UV) oorgeskuif het, nadat wetgewing verander het.
Die verhaal van die kollege begin in April 1898 toe dr. John Brebner ’n behoefte geïdentifiseer het om onderwysers vir die Vrystaat op te lei. Die kollege is op 12 Oktober van daardie jaar gestig en was aanvanklik as die Bloemfontein Normaalkollege bekend. Die kollege was vir die duur van die Anglo-boereoorlog gesluit, maar onderrig is weer in 1902 hervat.
’n Kampus is in 1916 by Parkweg 1, waar die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) nou is, geopen. Die kollege het eindelik noue bande gehad met die Grey-Universiteitskollege (GUK), wat later as die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) bekend gestaan het.
Die naam van die kollege is later na die Bloemfontein Onderwyskollege verander, waar 851 studente in 1974 ingeskryf was. Die kollege is in 1991 na die kampus van die UV verskuif. Die versameling kosbare kunswerke wat in die besit van die BOK was, het saam na die nuwe perseel geskuif.
Die reëlingskomitee sê die oudste student wat op navrae reageer het, het in 1934 aan die BOK studeer.
Die reünie begin Vrydag (30/09) met ’n potjie gholf op Schoemanspark, waarna ’n skemerkuier om 17:30 vir 18:00 by die Naval Hill-planetarium aangebied word.
Saterdag (01/10) word ’n bootvaart op die Modderrivier Express by Maselspoort onderneem.
Die program sluit ook ’n teetuinkuier, rolbal by die Hillandale-rolbalklub en ’n huisfunksie by die UV-sportsentrum in.
Rig navrae aan Taylor by 082-781-8856.