City Run Naval Hill bied op Dinsdag 26 Maart ’n maanligwedloop vir die hele gesin aan.

Oud en jonk, hetsy fiks of onfiks, word genooi om saam te hardloop, draf of stap.

Deelnemers kan in Bloemfontein se gewilde natuurreservaat, een van net enkeles in die wêreld wat binne ’n stad geleë is, die maanopkoms oor die stad sien.

Buiten die 5 km-geleenthede van City Run wat elke Saterdag gehou word, word die maanligwedloop twee maal ’n jaar, in Maart en weer in November, aangebied.

Die datums is gekies sodat die weer nog lekker warm is en dié geleenthede buite skoolvakansies val.

Die wedloop begin om 18:30 vir 19:00. Soos op Saterdae, is die wegspringpunt by die Madiba-standbeeld, en City Run se 5 km-roete word gevolg.

Deelnemers word aangemoedig om klere in neon-kleure te dra en kreatief te wees. Pryse word toegeken aan deelnemers wat die oulikste aantrek.

Bring ook koplampies en flitse saam vir wanneer dit donkerder raak.

Sekuriteitsbeamptes sal langs die roete diens doen om veiligheid te verseker.

Die NG-gemeente De Bloem sal ’n pannekoekstalletjie ten bate van gledsinsameling vir behoeftiges bedryf. Verder sal knypkoek (“jaffles”) en koeldrank te koop aangebied word.

Stalletjies en uitstalruimte is nog beskikbaar.

Annette Bothma Holtzhausen van City Run sê die geld wat met die wedloop ingesamel word, sal vir die instandhouding en opruiming op Naval Hill aangewend word.

“Dit is sodat die reservaat behoue kan bly as ’n trots vir Bloemfontein en die toeriste-attraksie wat dit is.

“Die projekte wat beoog word, is om die toiletgeriewe te verbeter en om ’n groot skerm te koop vir uitslae en advertensies waarmee verdere inkomste gegenereer kan word vir projekte en instandhouding.”

Inskrywing kos R60, en kinders jonger as 12 jaar betaal R40. Elke deelnemer ontvang ’n medalje ná voltooiing van die roete.

Inskrywing kan aanlyn by cityrunnavalhill.wixsite.com gedoen word, of op 26 Maart om 17:00 op Naval Hill, aan die voet van die standbeeld.

Rig navrae aan Elize-Mare Cilliers by 082-414-4565 of Annette by 084-2487693.

You need to be Logged In to leave a comment.