Almal uitgenooi om deel van Afrikaans 100-feesvieringe te wees

Oor twee jaar op 8 Mei 2025 sal dit presies 100 jaar wees sedert Afrikaans ’n amptelike taal van Suid-Afrika geword het.


Oor twee jaar op 8 Mei 2025 sal dit presies 100 jaar wees sedert Afrikaans ’n amptelike taal van Suid-Afrika geword het.

Afrikaanse organisasies, instansies, maatskappye, skole en enigiemand anders wat Afrikaans as inheemse taal koester, word genooi om by Afrikaans 100-feesvieringe betrokke te raak deur hul eie inisiatiewe te begin om dié groot geleentheid te vier. Die feesjaar moet ? positiewe, opbouende ervaring wees vir alle lede van die Afrikaanse gemeenskap, asook enige ander Suid-Afrikaners wat met hierdie feesvieringe te doen kry.

’n Afrikaans 100-oorsigkomitee is intussen gestig om al die aktiwiteite te koördineer.

Die feesjaar sluit op 8 Mei 2025 af met ’n groot gesamentlike feesgeleentheid wat by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl gehou word.

Die 100 jaar-vieringe bied die Afrikaanse gemeenskap die geleentheid om die fokus te plaas op die gedeelde ontstaansgeskiedenis van Afrikaans en erkenning te gee aan die ontwikkeling van Afrikaans as moedertaal en spreektaal.

“Vir enige taal om honderd jaar oud te word as amptelike taal is ’n belangrike mylpaal,” sê dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Afrikaans 100-oorsigkomitee. “Ons het vroeg begin om ’n oorsigkomitee saam te stel om ’n raamwerk te skep waarbinne alle organisasies, klein en groot, in die volgende twee jaar en veral die laaste ses maande voor 8 Mei 2025 Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike taal in Suid-Afrika kan vier.

Ek dink die feit dat Afrikaans sy amptelike taalstatus oorleef het te midde van al die politieke verandering is op sigself iets om te vier. Daarmee saam het Afrikaans in die afgelope 100 jaar baie mylpale bereik. Al daardie mylpale moet gevier word,

“Ek dink die feit dat Afrikaans sy amptelike taalstatus oorleef het te midde van al die politieke verandering is op sigself iets om te vier. Daarmee saam het Afrikaans in die afgelope 100 jaar baie mylpale bereik. Al daardie mylpale moet gevier word,” sê Eloff.

Hy sê die oorsigkomitee sal ’n koördinerende rol speel in die aanbied van ’n nasionale Afrikaans 100-veldtog. Voorts is werkskomitees vir verskillende sektore saamgestel uit ’n wye en verteenwoordigende groep Afrikaanse organisasies. Dié werkskomitees sal, onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), verantwoordelik wees daarvoor om talle feeste en geleenthede op alle vlakke van die samelewing deur die land te hou, tot met die groot feesgeleentheid op 8 Mei 2025.

Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument sê dit is belangrik dat die klem val op 100 jaar van Afrikaans se amptelike status.

“Die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans dateer terug na 1595. Dikwels word hierna verwys as die eerste periode in die geskiedenis van Afrikaans. Dit is egter 8 Mei 1925 wat onthou en herdenk sal word as een van die monumentele mylpale in die geskiedenis van dié relatiewe jong Afrika-taal. Die Wet op Amptelike Tale van Suid-Afrika, Wet 8 van 1925, is op dié datum in die destydse parlement aanvaar. Ingevolge dié besluit is Afrikaans, naas Engels, as amptelike taal van Suid-Afrika erken.” Die Afrikaans 100-oorsigkomitee verwelkom die ander Suid-Afrikaanse inheemse tale se status as amptelike tale sedert 1996, en ook gebaretaal sedert 2023. Afrikaans 100-feesvieringe word gereël in ’n gees van samewerking met ander inheemse taalgemeenskappe.

“Wat Afrikaans in die afgelope 100 jaar bereik het, kan beskou word as ’n norm vir ander inheemse tale van wat bereik kan word indien’n taal die nodige aandag en hulpbronne tot sy beskikking het,” sê Jonas.

Enige gemeenskap, organisasie, skool, maatskappy, instansie of individu wat die doelwitte van die Afrikaans 100-inisiatief deel, word genooi om deel van die feesvieringe te wees deur hul eie projekte van stapel te stuur.

Meer inligting oor die Afrikaans 100-fieringe is beskikbaar deur navrae te rig aan Merlyn van Rheede by info@afrikaans100.org.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.