Boere by Tierpoort buite Bloemfontein is baie dankbaar vir almal se hulp om Dinsdag (16/08) se veldbrand hier te help blus. Johann Breytenbach, voorsitter van die Mangaung-brandbestrydvereniging, sê die brand het oor ’n strook van ongeveer 13 km gebrand.
“Ons het reeds vroeër die week ’n waarskuwing van hoë brandgevaar oor talle dele van die Vrystaat uitgereik,” sê hy. Hy sê die brand by Tierpoort het Dinsdag voor 11:00 begin en is teen ongeveer 16:00 geblus.Blackie Swart van die Tierpoort-brandbestrydingsgroep sê hulle is nog besig met bestekopname van die skade. “Ons weet reeds dat een plaas sowat 70% skade gely het. Hy sê ‘n geskatte 5000 ha se veld is in die brand verwoes. Gelukkig is niemand beseer en geen strukture beskadig nie.”
Hulle probeer nog vasstel of daar vee is wat seergekry het.Swart sê hulle is uiters dankbaar vir almal wat kom help het. Die Mangaung-metro se brandbestrydingseenheid, Werk met Vuur (WoF) sowel as boere van Tierpoort en tot sover as Reddersburg het gehelp om die brand te bestry.Hy sê daar was meer as 60 voertuie wat gehelp het om die veldbrand te blus.“Dit was nie maklik nie, veral as die brand in die koppies geloop het waar dit moeilik is om te kom. Voertuie het ook in die vleie vasgesit. Dit is ongelooflik hoe die gras brand selfs al is die veld plek-plek nog nat,” sê hy.
“Dit was regtig wonderlik hoe mense ons gister ondersteun het. Hulle het vir ons kos en drinkgoed en selfs brandstof gebring sodat ons kon voortgaan om die brand te blus. Ons is regtig baie dankbaar vir almal se hulp.”Swart sê ook hulle het reeds voer en aanbiedings vir weiding gekry, wat regtig baie help.