Die span van ER24 by Jamie-Lee Henning (agter) is van links, voor: Sephiri Kganare; agter: Duncan Swart, Moiloa Mpholo, Gavin Letsopa, Retha van der Vliet en Andrie Erasmus. Foto: Rollando Henning

Paramedici van ER24 het ’n nege-jarige van Bloemfontein wat graag eendag ’n paramedikus wil word, op haar verjaardag bederf.

Jamie-Lee Henning (9) wat deur haar ouma Mandie Henning grootgemaak word, het in haar kleuterdae na die nag-crèche by die Bloemfontein Mediclinic gegaan waar Mandie as verpleegkundige werk.

“Vandat Jamie-Lee kon loop, het sy altyd na die ambulanse toe gegaan om te gaan groet. Sy gaan kuier nou nog gereeld daar,” sê Mandie.

Jamie-Lee is ’n gr. 3-leerling aan die Laerskool Jim Fouché.

“Sy wil baie graag eendag ’n paramedikus word,” vertel Mandie.

“By die skool loop sy gereeld met haar ER24-noodhulpsak rond en kyk waar sy ’n pleister kan plak en kan help.”

Mandie sê Jamie-Lee wou vir haar negende verjaardag op 13 Mei baie graag ’n ambulans-partytjie hou.

“Ek het vir Lucas Bezuidenhout van ER24 gevra of hulle kan help, en hy het dadelik ingestem. Jamie-Lee was uit haar vel en hulle het haar grootste verwagtinge oortref.”

Die paramedici het gewys hoe hulle hul werk doen en hoe alles in die reddingsvoertuig werk.

“Dit was so wonderlik dat die personeel van ER24 haar dag so spesiaal gemaak het,” sê Mandie.

Jamie-Lee Henning (9) in haar ER24-klere. Foto: Rollando Henning

You need to be Logged In to leave a comment.