ANC is besorg oor dienslewering in Mangaung

Die ANC in die Vrystaat sê dié party is besorg oor die politieke ontwikkeling in die Mangaung-metro ná die verkiesing van die DA-raadslid Maryke Davies as speaker.


Die ANC in die Vrystaat sê dié party is besorg oor die politieke ontwikkeling in die Mangaung-metro ná die verkiesing van die DA-raadslid Maryke Davies as speaker.

Polediso Motsoeneng, die ANC se provinsiale sekretaris in die Vrystaat, sê in ’n nuusverklaring wat Donderdag (30/03) uitgereik is, die ontwikkelings kry nou volle aandag.

In die verklaring sê Motsoeneng die ANC is lank reeds bekommerd oor die pas van dienslewering en die algehele onstabiliteit van Mangaung.

Die ANC in die Vrystaat het daarom besluit dat daar veranderings moet kom in die poste van uitvoerende burgemeester, die adjunk-burgemeester, die speaker en die hoofsweep. Die posisies is dus nou vakant.

Motsoeneng sê om dit te bereik is al die ANC se interne prosesse gevolg en hulle is in kennis gestel van die spesiale raadsvergadering Woensdag (29/03) waarop die verkiesing van die speaker per geslote stembrief gedoen is.

Nog ’n verkiesing is vir Donderdag geskeduleer waarop die burgemeester en die hoofsweep gekies moes word. Dié vergadering is egter Donderdag vroeg gekanselleer weens die onstabiliteit in die raad.

Albei die agendas vir dié vergaderings is uitgestuur deur die waarnemende stadsbestuurder, Teboho Motlashuping. Hy het nie as voorsittende beampte gedien tydens Woensdag se vergadering nie.

Mokgadi Kganakga, DA-raadslid, het tydens die vergadering Woensdag gevra waar Motlashuping is.

Die ANC sê nou in hul verklaring hulle ondersoek die wettigheid van die raadsvergadering.

Motsoeneng sê die ANC se uitvoerende komitee bly verbind tot sy agenda van hernuwing en eenheid.

“Dit sluit in om op te tree teen die lede wat nie die waarde van die party uitleef nie.”

Hy sê dit is verbysterend dat die verkiesing uitgedraai het soos dit het, siende dat al 51 ANC-raadslede die ANC-koukus bygewoon het. “Die ANC gaan ’n ondersoek doen oor die swak dissipline. Ons sal nie rus voordat daar opgetree is teen lede wat kwaadwillig en swak gedissiplineerd is nie.”

Marietjie Gericke het Donderdag in Volksblad berig dat die ANC-raadslede Woensdag deur die ANC in Bloemfontein drie uur lank in die Bram Fischer-gebou gehou is om hulle aan leuenverklikkertoetse te onderwerp om uit te vind wie van hulle saam met die opposisie vir die DA-speaker gestem het. Hulle kon egter nie sulke toetse in die hande kry vir so ’n groot groep nie en die raadslede is uiteindelik laat gaan.

Die stemming van die speaker was tussen Davies en Lawrence Mathae wat met 53 stemme teen 40 verslaan is.

Mathae het as hoofbestuurder van die metro se vullisverwydering bedank om beskikbaar te wees vir die pos as speaker.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.