Die ANC in die Mangaung-metro wat Vrydag (31/03) agt van sy raadslede uit die party geskop het ná Woensdag 29 Maart se raadsvergadering waarop ’n speaker uit opposisiegeledere verkies is, is selfvernietigend. Dit kan die party ook sy meerderheidstem in die raad kos.
So sê opposisiepartye se leiers in die raad, wat ook glo dat die ANC nie kan bewys dat dit daardie einste raadslede is wat Woensdag vir ’n opposisie-speaker gestem het nie.
Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, VF Plus-koukusleier, sê in kommentaar: “Vier van die wyksraadslede en vier van die proporsionele raadslede se uitskop uit die party kan maak dat die ANC vorentoe sy meerderheidstem in die raad kan verloor, maar dié agt raadslede kan nog daarteen appelleer.”
Die ANC is glo besig met ’n proses om nog drie of vier van sy raadslede uit die party te skop, sê Snyman van Deventer.
Die ANC het ook aangekondig dat hy die geldigheid van die raadsvergadering waarin ’n opposisieraadslid tot speaker verkies is, deur ’n hofbevel ongeldig wil laat verklaar, sê sy.
“Die ANC beweer dat Tebogo Motlashuping, die waarnemende munisipale bestuurder van die ingrypingspan wat deur die departement van samewerkende regering en tradisionele sake aangewys is, se termyn reeds verstryk het en dat hy nie bevoeg was om die vergadering te belê nie.”
Die VF Plus veroordeel dié optrede van die ANC.
“Indien die agt ANC-raadslede wel vir die opposisieraadslid gestem het vir speaker, was dit eerder ’n stem teen die ANC-kandidaat, Lawrence Mathae. Die meerderheid van die raadslede in die Mangaung-metroraad is nie tevrede met Mathae vir die speakerpos nie.”
Mathae was vyf jaar lank die hoofbestuurder van vullisverwydering in die Mangaung-metro, terwyl hy ook ’n senior pos in die ANC beklee het.
“Mathae het sy werkstyd bestee om eerder ANC-politiek te bedryf en was selde in die Mangaung-streek,” beweer Snyman van Deventer.
“Die uitskop van wyksraadslede beteken dat daar binne 90 dae tussenverkiesings gehou moet word om dié vakatures te vul.”
Sy sê dit beteken nou dat die ANC sy klein meerderheid van 51 uit 101 setels kan verloor.
Selfs met die samewerking van drie kleiner partye wat nou die ANC se bondgenote in die raad is, naamlik die Patriotic Alliance (PA), African Transformation Movement (ATM) en die African Independent Congress (AIC), sal hulle sukkel om soos in die verlede met hul meerderheidstem besluite deur te stoomroller.
Mapaseka Mothibi-Nkoane, onderburgemeester wat ook uitgeskop is uit die ANC, sê hulle gaan steeds as raadslede die raadsvergaderings bywoon totdat hul appèlle by die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC aangehoor is.
“As die NUK ook sê ons is uitgeskop, gaan ons die hof nader. Ons bly raadslede totdat ons appèlle aangehoor is.”
Pappie Mokoena, koukusleier van die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) in Mangaung, sê daar is met ’n geheime stembrief gestem. “So hoe weet die ANC presies wie vir hulle en wie teen hulle gestem het?”
Puseletso Seleke, wat nou uit die party geskop is, het Mathae as ANC-kandidaat vir speaker vir die Mangaung-raad voorgestel.
Benewens Mothibi-Nkoane is die ander sewe Chabeli (Frans) Rampai, Mpho Mokoakoa, Patrick Monyakoane, Stefani Lockman-Naidoo, wat al bedank het as speaker en nie meer vir die metro werk nie, Lehlohonolo Moqolo, Lelala Makoa en Seleke.