Twee avonturiers wat verlede jaar in Bloemfontein gematrikuleer het, is onder die vyf jongmense wat saam met Riaan Manser na Antarktika gaan.
Manser se Matrics in Antarctica-tog was verlede jaar so ’n groot sukses dat hy vanjaar die tweede keer jongelinge ’n week lank na die Suidpool neem.
Mattheus Wessels (18) en Kgosatsana Mabalane (18), wat verlede jaar aan onderskeidelik Grey-kollege (sekondêr) en die St. Michael-skool gematrikuleer het, het op Vrydag 14 Januarie gehoor hulle is onder die vyf gelukkiges wat na Antarktika gaan.
Hulle vertrek op 10 Februarie saam met Manser, Delecia Davids, ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch, en die omroeper Nick Hamman van 5FM.
Ná die aankondiging het Wessels gesê dit is ’n onbeskryflike gevoel om gekies te word.
“Ek kan nie dink ek is deel van iets so groots nie. Dit voel asof ek ’n nuwe lewe het wat voorlê.”
Hy sê die moeite wat die organiseerders doen, is ongelooflik.
Mabalane, wat verlede jaar hoofmeisie was, sê sy is baie opgewonde.
“Dit is onwerklik. Ek sien uit om die pikkewyne te sien en die koue te beleef. Ek wonder hoe verskil dit van Bloemfontein se koue . . .”
Sy sê die ervaring gaan haar ’n hupstoot gee om meer vir haar gemeenskap te doen.
- Tswaledi Hlakudi van Brainline in Gauteng, Anika le Roux van Paarl Girls High School en Keaton Stansfeld van die Jeppe High School for Boys, ook in Gauteng, maak die res van die vyftal uit.