Daar is nog net tyd tot Sondag (18/09) om voorraad vir die veiling ten bate van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds aan te bied.
Die veiling vind op Saterdag 24 September om 12:00 in die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke plaas.
Betsie Roux, voorsitter van die reëlingskomitee, sê voorraad word gekeur sodat antieke ware en versamelaarsartikels van goeie gehalte aangebied word.
“Ons is baie opgewonde oor die voorraad wat reeds ontvang is,” het sy Maandag (12/09) gesê oor die inskrywings wat reeds op die katalogus is.
Die veiling word deur Pieter Erasmus van Bainsvlei-afslaers aangebied.
Van die artikels wat beskikbaar is, is ’n besonderse staanhorlosie en verskeie pragtige antieke meubelstukke. Daar is onder meer ’n geelhout-hoekkas, lampe, breekware en antieke stoele.
Benewens besonderse skilderye wat op die veiling verkoop gaan word, sal kunstenaars die geleentheid kry om hul skilderye in die Oorlogsmuseum se nuwe voorportaal uit te stal en te verkoop.
Besigtiging van die voorraad kan Saterdag (17/09) van 08:00 af gedoen word. Kopers kan om 08:00 by die museum registreer om aan die veiling deel te neem. Registrasie kos R50 en sluit ’n katalogus in. ’n Deel van die registrasiegeld, kopers- en verkoperskommissie, word aan die Kersfonds geskenk.
’n Mark, aangebied deur die Hospice-winkel op die terrein van die Oorlogsmuseum, word ook die oggend aangebied.
Rig navrae aan Roux by 082-413-9275.