Bloemfonteinse skrywer en karikatuurkunstenaar Martin Schwella het vir die sanger Appel help soek na sy Dina. Martin het vanjaar 50 karikature van bekendes, waaronder Appel, geteken. Toe Appel besluit sy nuwe liedjie “Dina” moet ’n animasieprent wees, het hy vir Martin gekontak. “Ek het eers nie kans gesien vir dié projek nie, maar Appel het die manier om ’n mens uit te daag. Ek het begin teken en vinnig besluit hierdie is ’n lekker projek.” Hy het met die idee van ’n kat-en-muis-speletjie gekom waar Appel na sy Dina soek. Ná ongeveer 100 sketse het die musiekvideo vir die liedjie gestalte gekry. “Dit is ’n unieke video vir ’n Afrikaanse liedjie,” vertel Martin. “Sover ons weet is dit die eerste animasieprent vir ’n musiekvideo in Afrikaans. Vir my was dit ’n ware ontdekkingsreis en ek het sommer baie geleer uit die werk. Die lekkerste was dat my en Appel se kreatiwiteit lekker van mekaar afgespeel het.” Die video is Vrydag (10/12) op Appel se Facebook-blad bekend gestel en die wag was verby. Almal kan nou sien hoe Appel na sy Dina soek en lekker saam dans op dié liedjie. Tussen sy talle ander projekte deur, werk Martin ook nou aan ’n pragtige Afrikaanse kinderboek wat hy met ’n projek op die internet befonds. Hy wil 1 000 kopieë van die boek Jesus my Superhero goedkoop of gratis beskikbaar stel.
Loer by Jesus my Superhero om meer inligting te kry oor dié projek.
Kyk Appel se video op Bloemnuus se Facebook-blad off kliek hier Dina
Sien die karikatuursketse van bekendes soos Leon Schuster, Steve Hofmeyr en vele meer op die instagramblad: Schink Caricatures.