Daar is net vervalle mure, gebreekte glas, mense wat onwettig in die geboue bly en hope vullis oor van die eertyds pragtige Arthur Nathan-swembad in Arboretum, Bloemfontein.
Sowat 15 onwettige besetters het die afgelope maande hul intrek geneem in dele van die munisipale swembadgeriewe se geboue, wat al jare in onbruik staan.
’n Verdagte is op Maandag 12 Augustus net voor 13:00 hier op heterdaad betrap waar hy in ’n boom gesit het, besig om ’n kragkabel af te saag.
Johan van der Linde van Bloemsec, wie se veiligheidsvoertuig in die parkeerterrein voor die geboue geparkeer was, sê hy het ’n lawaai gehoor en oor die radio bystand ontbied.
Joseph Nel en Ricus Slabbert van Bloemsec was gou op die toneel en het die verdagte in hegtenis geneem en die polisie se blitspatrollie ingelig. Die polisie was kort daarna op die toneel en het ’n saak van besit van vermoedelik gesteelde eiendom teen die verdagte oopgemaak.
Van der Linde sê hulle sien nie meer veiligheidswagte wat die perseel namens die Mangaung-metro oppas nie, omdat die wagte bang is vir die onwettige besetters en ander mense wat die swembad daagliks gebruik om pype te brand en gesteelde produkte uitmekaar te haal.
“Hier was onlangs ’n vroulike veiligheidswag – sy kan mos nie alleen hier werk nie.”
Hy sê hulle het onlangs ’n leer hier gevind wat by ’n nabygeleë huis gesteel is, en daar lê oral dele van selfone rond.
’n Bejaarde vrou wat na haar motor in Unielaan gestap het, se handsak is op 18 Julie gesteel.
Onwettige besetters bly in ’n donker, roetbesmeerde kelder onder die geboue, waar hulle blyplekke met lappe en selfs beddens ingerig het. Van hulle erken dat hulle lede van bendes is.
Pieter Lotriet, DA-wyksraadslid, sê daar is nou niks meer van waarde oor om op te pas nie.
Die Mangaung-metro het verlede jaar ’n heining aan die voorkant van die gebou opgerig om mense uit te hou, maar dié heining is uitgebreek en daar is baie openinge in die muur in Unielaan, waar vermeende misdadigers kom en gaan.
Lotriet sê die poging van die metro om die perseel met veiligheidswagte te beskerm, is ’n klug en vrugtelose besteding.
Hy sê dit is die metro se verantwoordelikheid om die perseel veilig te hou en nie dié van die polisie nie.
“Die eiendom is ’n bate van die metro, en soos alle munisipale bates word daar toegelaat dat dit tot niet gaan.”
Navrae oor die opknapping van die Arthur Nathan-swembad en die beveiliging van die perseel is aan Qondile Khedama van die Mangaung-metro se kommunikasie-afdeling gerig, maar geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.
Lees meer op bl. 2.