Sy staan vir ’n oomblik effens eenkant toe en ek loer gou na wat in die inkopiewaentjie is.
Nee wat. Ons is gedoem.
Tamaties, knoffel, uie, maalvleis, spaghetti, tamatiepasta. Dit, saam met een van daardie voorafgereed-pakkies met souspoeier wat beweer jy het eintlik net ’n spatseltjie olie en die tamatiepasta nodig, saam met die enkele vars bestanddele.
Met eerste oogopslag kon ek sien dis bestanddele vir gewone spaghetti bolognese. Ja, wraggies. Dit staan só op die pakkie.
Hier is geen afwyking van die gewone. Geen kreatiwiteit, geen vindingrykheid, geen improvisasie. Die vrou het nie eens ’n soetrissie, olyf, ’n songedroogte tamatie of fetakaas daarby nie.
Wanneer die situasie knyp, gaan sy niks kan uitrig sonder ’n resep nie – en ons almal weet die lewe het nie ’n handleiding of iets dergeliks nie.
Ek hoef nie om te draai om uit te vind wat in die mandjie is van die outjie wat agter my in die ry staan nie: aanspuitgoed om lekker te ruik; mondspoelmiddel; ’n pak Doritos; ’n Coke en ’n knoffelbrood. Iemand is genooi vir ’n braai.
Ek weet wat hy koop, want ek het my loer al tussen die rakke klaargeloer en toe opgelet dat hy sy staan agter my kry.
En hier staan ons. Tussen die duiwel en die diep blou see; oftewel, die sjokoladestafies en die skindertydskrifte.
Sien, nes met Tannie Tamatie is ek nie heeltemal oortuig dat Boetie Braai die beste man sal wees om aan my kant te hê nie, sou die ergste gebeur.
Sou hy weet hoe om vuur te maak ook, of het hy net genoeg vaardigheid om met sy tjoppie nader te staan sodra iemand anders die kole reg het? In dié plek het ons nie net omdraaiers en grootpraters nodig nie; ’n man moet sy storie ken.
Uit Stephen King se verbeelding het The Mist gekom: ’n Supermark, iewers in Amerika, met daardie onheilspellende mis wat ná ’n vreemde storm nader rol en mense wat hier vasgekeer word, vreemdelinge op mekaar aangewese – met die mis wat buite dreig en, later, reusagtige spinnekoppe en wat nog.
Maar wag. Kom ons hou liewer by die moontlikhede van ’n Checkers in Bloemfontein.
Ook, kom ons hou die groot vraag voor oë: Sou die een of ander ramp, hetsy natuurlik, bonatuurlik of andersins, toeslaan – is die spannetjie mense hierbinne hoegenaamd daarteen opgewasse?
Dalk het ek een King-kortverhaal te veel gelees. Miskien is dit die postapokaliptiese toonaard van die zombie-TV-reeks The Last of Us wat op my inwerk. Heel waarskynlik het dit ook iets te doen met die kolletiewe bewussyn wat sedert die begin van dié jaar so tot barstens toe vol gestop is met natuurrampe soos aardbewings en vloede.
Hoe dit ook al sy – ek betrap myself al hoe meer gereeld aan die wonder oor dié soort dinge.
Maar hoe vra jy dan nou só? Wat is in my mandjie, wil jy weet. Man, moenie jy bekommer nie. Gryp net solank die grootste bottel Tobasco-sous wat jy in die hande kan kry en ontmoet my daar agter, by die kinderspeelgoed.