Ná ’n ontstuimige maand van terugslae, het daar vir die Vrystaat Kunstefees verligting gekom in die vorm van ’n geldelike skenking deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV).
Michael Garbett, die feesdirekteur, sê hulle is verheug om te kan aankondig dat die ATKV aangebied het om die uitstaande vergoeding vir kunstenaars van die 2022-fees oor te neem.
Hierdie reddingsboei help nie net die kunstenaars wat weens die fees se kontantvloeiprobleem nie betaling ontvang nie, maar verseker ook die voortbestaan van die fees.
Michael sê in ’n verklaring die fees is dankbaar vir die ATKV se onbaatsugtige en visionêre leierskap.
“Die ATKV se aanbod bewys dat dié organisasie verbind is tot volhoubare, sosiale en ekonomiese groei en vooruitgang.”
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV sê dié organisasie glo in die Vrystaat Kunstefees en sy missie om ’n platform vir die kunste te skep. “Daarom is dit vir ons ’n voorreg om weer – net soos in die verlede – die fees te ondersteun om die voortbestaan van die fees te help verseker.”
Michael sê albei organisasies sien uit na opbouende samewerking in die toekoms. Ons pak 2023 met hernude vertroue in die fees en gesamentlike, weldeurdagte planne aan,”