ATKV leer jonges die kuns van storievertel

Inskrywings vir die ATKV-Tienertoneel, ATKV-DigiToneel en ATKV-Tjokkertoneel vir 2023 is nou amptelik oop.


Inskrywings vir die ATKV-Tienertoneel, ATKV-DigiToneel en ATKV-Tjokkertoneel vir 2023 is nou amptelik oop.

Die ATKV se toneelaanbod het vanjaar weer duisende toneelliefhebbers bereik en kinders nie net ’n geleentheid gegee om op die verhoog te kom nie, maar ook om voor die kameras te verskyn.

Daar was vanjaar 172 produksies wat vir die ATKV-Tienertoneelkompetisie ingeskryf is om mee te ding om die topplek in die land.

Die tweede ATKV-DigiToneelkompetisie is vanjaar vir die tweede keer aangebied met die ATKV se realiteitsreeks Gekies vir die Kollig wat op DStv-kanaal 146 (VIA) uitgesaai is.

Die ATKV se jongste toneelkompetisie, die ATKV-Tjokkertoneelkompetisie, het ook met 400% gegroei sedert die eerste aanbieding net voor die uitbreking van Covid-19.

JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV, sê met hierdie drie kompetisies wil die ATKV ’n smeltkroes bied waarin jong teatertalent hul vaardighede kan ontwikkel en slyp.

“Die kreatiwiteit en entoesiasme waarmee deelnemers die ATKV se toneelprojekte aanpak, is grensverskuiwend. Hulle gee die pas aan van hoe die ATKV sy projekte moet vernuwe en aanpas om met hierdie talent en passie by te hou,” sê Van Niekerk.

“Ons put in 2023 inspirasie uit die tema: Grensloos”. Hy verduidelik dat die ATKV se deelnemers graag die toneelplatforms gebruik om vreesloos te eksperimenteer en dat jy ’n konsep baie moeilik in ’n boksie kan druk of jou vinger op ’n wenresep kan plaas.

“Dit is presies wat ons wil hê deelnemers moet doen. Kom wees saam ‘Grensloos’.”

Met die ATKV-tienertoneel word elke regisseur aangemoedig om die leerlinge soveel geleenthede as moontlik te gee om by al die aspekte van die projek betrokke te raak, met ander woorde by die spel en regie, skryf van tekste, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie en vele meer.

Die ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n nuwe temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm. Die ATKV gaan hierdeur in sy doel slaag om ’n liefde vir toneelskepping en film te bevorder deur op kameraspel, kinematografie en die skryf van tekste te fokus.

Met ATKV-Tjokkertoneel word laerskole aangemoedig om jong leerlinge bloot te stel aan teaterkuns en drama deur middel van mini-tonele.

Kry meer inligting op die webwerf atkv.org.za.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.