Dit was ’n baie moeilike roete, maar Bloemfonteinse veteraan-atleet Henk le Roux (61) het die Bo-Karoo Vasbyt-uitdaging vir ’n goeie saak voltooi en is so gemotiveerd dat hy dit volgende jaar weer wil aanpak.
Le Roux het van 25 tot 29 April saam met deelnemers van oor die land heen deelgeneem aan dié geleentheid met uithouwedlope en -fietswedrenne rondom Orania.
Henk het deelgeneem aan die Vasbyt-wedloop, waarin deelnemers 100 km oor vier dae aflê. Hy sê sowat 50 deelnemers het weggespring, en net 26 het dié moordende roete voltooi.
“Baie van die mense wat saam met ons begin het, het oorgegaan na die Langloop, wat oor 55 km strek. Die 100 km was taai, maar ’n lekker uitdaging.”
Orania het as basis vir die uithouwedlope gedien, en die meer as 200 deelnemers kon enige plek in die dorp tuis gaan. Benewens die twee wedlope was daar ook twee fietswedrenne oor onderskeidelik 116 km en 250 km.
In die koel oggende het almal om 06:30 van die Banketsaal by Die Oewer-vakansieoord op die dorp weggespring.
Op dag een van die Vasbyt het Le Roux ses en ’n half uur aan die moordende 34 km gestap.
“Die roete was baie moeilik en het gestrek deur watergate en modder; oor koppies, sand en veld.”
Op die tweede dag het hy die 14 km binne 2:26 afgelê.
“Dit was ’n redelik maklike roete, behalwe vir die bulte,” sê hy.
Die derde dag moes deelnemers 27 km aflê, met 25 km op die laaste dag.
“Die laaste dag was ook moeilik, met los klippe en ’n hele paar kilometer wat ons op ’n veldpaadjie moes aflê.”
Die roete het sy tol geëis en Le Roux moes met seer voete weens blase op sy tone stap.
“Sand beland tussen jou tone en skuur jou stukkend,” sê hy.
Dit het hom egter glad nie ontmoedig nie en hy sien uit daarna om volgende jaar terug te keer om die Langloop te doen.
Met die aanmoediging van Amanda Bezuidenhout, wat vanjaar haar sewende Vasbyt-wedloop aangepak het, het Le Roux die staptog ten bate van Engo se Huis Amor aangepak. Susan de Wee, huismoeder van Huis Amor, sê daar woon tien meisies tussen 14 en 18 jaar oud.
“Met die geld wat Henk vir ons met dié vasbyt insamel, wil ons graag die trampolien en apparate opknap,” sê sy.
“Dit is vir ons belangrik dat die meisies buite speel en kuier.”
Talle ander Bloemfonteiners het ook aan die Bo-Karoo Vasbyt se wedlope en fietswedrenne by Orania deelgeneem.
Mense wat ’n bydrae vir Huis Amor wil lewer, kan Jezel Tshanga, ’n maatskaplike werker van Engo verantwoordelik vir Huis Amor, by 082-449-0106 bel.