Bloemfonteinse Olimpiese atleet Louzanne Coetzee en haar atletiek-gids, Estean Badenhorst, is deel van die oefengroep waaruit die Suid-Afrikaanse span gekies gaan word wat van 8 tot 17 Julie in Parys, Frankryk, aan die Wêreld-Para-atletiekkampioenskapsbyeenkoms gaan deelneem.
Sy en haar marathon-gids, Claus Kempen, het ook Sondag (16/04) as pasaangeërs aan die Twee Oseane-halfmarathon deelgeneem.
Louzanne het in die Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir Mense met Gestremdhede, waarvan die byeenkoms van 18 tot 21 Maart in Kaapstad gehou is, ’n bronsmedalje verower en ’n Suid-Afrikaanse rekord opgestel in die 400 m-nommer in die T11-klas.
Sy het goud behaal in die 800 m- en 1 500 m-nommer.
Sportlui het in dié kampioenskap meegeding in atletiek, fietsry, boccia en doelbal.
Die Vrystater Khumo Pitso, ’n belowende atleet van die Hoërskool Sentraal, het goud in die o.20-ouderdomsgroep in die T46-afdeling in hoogspring gewen, en ook ’n Suid-Afrikaanse rekord van 1,85 m vir laasgenoemde opgegestel. Hy het ook goud in verspring en silwer in die 100 m behaal.
Net ná die byeenkoms het hy op die Suid-Afrikaanse Hoërskole-atletiekbyeenkoms in Germiston sy eie rekord in hoogspring in die T46-klas na 1,95 m verbeter.
Mpho Mkele van die Tswellang- Spesiale Skool het goud behaal en ’n Suid-Afrikaanse rekord opgestel in die T11-klas, in die o.17-ouderdomsgroep.
Sy het ook goud verwerf in die 200 m-nommer.
Luciano Phangisa, ook van Tswellang, het goud in die T36-klas in die o.17-ouderdomsgroep en 200 m-nommer behaal, en ’n Suid-Afrikaanse rekord in die 100 m-nommer opgestel.
PJ Klopper van die Hoërskool Zastron het goud in verspring behaal in die T13-klas in die o.17-ouderdomsgroep. Sy sprong van 4,9 m het ’n Suid-Afrikaanse rekord in dié klas en ouderdomsgroep gestel. Hy het ook ’n rekord in sy klas opgestel in hoogspring (1,65 m), asook ’n rekord en goud behaal in spiesgooi (28,21 m).
Ernst Lubbe het in die ope afdeling in die F32-klas goud behaal in knuppelgooi.
Die Vrystaatse fietsryspan was weer die algehele wenner in die fietsrykompetisie.
Fietsryers wat goud in die 1 000 m-baannommer, 3 000 m-baannommer, tydtoets en padwedren behaal het, is:
- Ance Immelman van die Martie du Plessis-klub, o.21 (C3);
- Jimmy Ozoude van Martie du Plessis, o.17 (C3);
- Lehloane Leshoro van Tswellang, o.19 (C5);
- Reyaleboha Memani van Tswellang, o.17 (C4);
- Seiso Shabila van Tswellang, o.19 (C2); en
- Teri Stallenberg van Martie du Plessis, o.21 (C4).
Zack Wolmarans, o.21 (C1), het silwer in die 1 000 m-nommer behaal en goud in die 3 000 m-nommer, tydtoets en padresies.
Altus de Wet, o.21 (C1), van Martie du Plessis het goud in die 1 000 m-nommer, en silwer in die 3 000 m-nommer en tydtoets, behaal.
Jenna-Leigh Pollock, o.19 (C5), van Martie du Plessis het goud in die 1 000 m- en 3 000 m-nommer en tydtoets behaal, en silwer in die padwedren.
’n Fietsryer wat uitgeblink het in die driewiel-fietsresies is Mojalefa Majake, o.21 (T2), van Martie du Plessis, met goud in die 800 m- en 1 500 m-baannommer, goud in die tydtoets en goud in die padresies. Die volgende fietsryers het goud in die 800 m- en 1 500 m-nommer en tydtoets verwerf:
- Ruan Gribbe van Martie du Plessis, o.19 (T2); en
- Sindi Hugo van Martie du Plessis, o.21 (R2).