Groot nuus vir Vrystaatse atlete is dat die Mimosa Mall-marathon, wat op 1 Maart in Bloemfontein aangebied word, ’n Comrades- kwalifiserende wedloop sal wees.

Teken solank 1 Maart in jou dagboek aan vir Mimosa Mall Marathon.Foto: Verskaf

Dit volg op ’n uiters suksesvolle Mimosa Family Run wat in Maart in samewerking met die Louzanne Coetzee-stigting en die hardloopklub Bloemfontein Striders aangebied is.

Byna 1 000 entoesiastiese atlete het aan die wedlope oor 5 km, 10 km en 21 km deelgeneem.

In 2025 gaan Mimosa Mall ’n groter geleentheid aanbied, met ’n marathon wat bygevoeg word en deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) as ’n provinsiale kwalifiserende wedloop vir die Comrades-ultramarathon goedgekeur is.

Mimosa Mall vier in 2025 sy 25ste bestaansjaar, en die Mimosa Mall-marathon gaan beslis die kersie op die koek van dié feesjaar wees.

Nie net bied die wedloop ’n geleentheid vir atlete om te kwalifiseer vir die Comrades nie, elke atleet gaan ’n bederfpakkie van Mimosa Mall se winkels en vennote ontvang.

Koopbewyspryse van R32 500 is op die spel vir die wenners in die verskillende ouderdomsgroepe.

Neelofar Issa, algemene bestuurder van Mimosa Mall, sê hulle was trots op die eerste Mimosa Family Run wat vanjaar aangebied is.

“Die hardlopers kon R10 000 tot die Louzanne Coetzee-stigting bydra. Dié stigting help om belowende para-atlete te bemagtig, te ontwikkel en te ondersteun. Volgende jaar doen ons dit weer.”

Teken 1 Maart in jou dagboek aan vir die Mimosa Mall-marathon.

Coetzee sê dié geld wat danksy Mimosa Mall Run geskenk is, is gebruik om atlete met gestremdhede wat op die Vrystaat-atletiek­byeenkoms op 2 November uitgeblink het, met trofees te vereer.

“Ons wil ook atlete wat ’n hupstoot benodig, help om volgende jaar na die nasionale kampioenskapsbyeenkoms te gaan,” sê sy.

Jeannine van Zyl, algemene bestuurder van Novus Media Gemeenskapsnuus in die Vrystaat en Noord-Kaap, sê dit is ’n voorreg vir BloemNuus om die eksklusiewe gedrukte mediaborg vir die Mimosa Mall-marathon te wees.

“Die geleentheid verteenwoordig meer as net ’n wedloop – dit weerspieël van ons waardes wat met ons missie en visie ooreenstem. Die Mimosa Mall-marathon is ’n wonderlike geleentheid om met ons gemeenskap te skakel en verhoudings met kliënte en plaaslike vennote te bou en te versterk. Ons ondersteuning van die geleentheid weerspieël ons toewyding om ’n gesonde en aktiewe leefstyl in ons gemeenskap te bevorder.”

Die wedlope is oop vir die hele familie en aanlyn inskrywing open op 17 Januarie.

Lesers sal op die hoogte gehou word van alle inligting in verband met die wedloop.

You need to be Logged In to leave a comment.