Die Kovsie-naelloper Oratile Setlhabi het gewys sy skuif na langer afstande was nie net vir pret nie.
Dié atleet, wat tot verlede jaar in die 100 m- en 200 m-nommer meegeding het, het onder afrigting van Ans Botha op die eerste skof van Atletiek Suid-Afrika se Grand Prix-reeks sy persoonlike beste tyd van 46.37 in die 400 m-nommer behaal. Dié byeenkoms is op Woensdag 16 Maart in Bloemfontein aangebied.
Hy het ’n paar dae vroeër sy vorige beste tyd van 46.92 op die provinsiale kampioenskapsbyeenkoms behaal.
Nog ’n Kovsie, Joané Gerber, het met 6,35 m haar persoonlike beste afstand in verspring behaal. Hiermee het sy vir die junior wêreldkampioenskapsbyeenkoms gekwalifiseer.
Helene Peens en Danni Nolte (albei 6,37) het haar met 2 cm op Woensdag se byeenkoms geklop. Yolandi Stander, wat verlede jaar ’n operasie ondergaan het, het die diskusgooi vir vroue met 54,01 m gewen.
Nadat hy op die provinsiale kampioenskapsbyeenkoms die verspring met 7,60 m gewen het, het Peter Makgato Woensdag derde gekom in die Grand Prix.
In die 100 m was Tjaart van der Walt derde met ’n tyd van 10.68. – Jóhann Thormälen