Talle Bloemfonteinse atlete het van 28 Maart tot 1 April in Gqeberha meegeding in die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskap vir Mense met Gestremdhede (SASAPD). Hulle het onder meer deelgeneem in para-atletiek, para-fietsry, boccia, para-swem, cp-sokker en doelbal.
Vier atlete van die Martie du Plessis-skool in die stad het deelgeneem, met Vian Bonthuys wat sy skool se naam hoog gehou het en ‘n Suid-Afrikaanse rekord in verspring opgestel het. Hy het ook goue medaljes verwerf in die 100m, gewigstoot en verspring.
Luca Viljoen het ‘n Suid-Afrikaanse rekord in diskusgooi opgestel en het ook goud verwerf. Moses Thokotje het goue medaljes verwerf in gewigstoot en spiesgooi, sowel as ‘n bronsmedalje in diskusgooi.
Die senior atlete wat goed gevaar het is onder meer die atleet Arina Nicolaisen, wat die Suid-Afrikaanse-rekord in die 400m verbeter het en goud verwerf het in die 800m en 400m.
PJ Klopper het goue medaljes verwerf in die 100m en spiesgooi. In laasgenoemde het hy die Suid-Afrikaanse rekord verbeter. Hy het ook ‘n silwermedalje in hoogspring verwerf.
Adel Basson het silwer verwerf in spiesgooi en diskusgooi, en brons in gewigstoot.

Bernadine Pienaar het ‘n silwermedalje in spiesgooi verwerf en brons in diskusgooi en gewigstoot. Hulle neem deel in die sittende afdeling. Jacques de Bruyn het brons in die 200m verwerf.
Ses leerlinge van die Tswellang- Spesiale Skool het deelgeneem, met Zintle Makhamba wat uitgeblink het met ‘n Suid-Afrikaanse rekord en goud in die diskusgooi, asook nog goue medaljes, vir gewigstoot en spiesgooi.

Itumeleng Letebele het ‘n bronsmedalje vir spiesgooi ontvang; Luciano Phangisa goud in die 400m en silver in die 200m; en Omolemo Mokoena het brons vir diskusgooi en spiesgooi ontvang.
Die Vrystaatse para-fietsryspan het weer vanjaar die beste in die kampioenskap gevaar. Die span het bestaan uit 18 deelnemers. Daarvan was tien leerlinge van Martie du Plessis en drie oudleerlinge.
Een van die uitblinkers was Cristiano Nieman (o.17) wat Suid-Afrikaanse-rekords in die 1 000m en die 3 000m verbeter het. Hy het ook goud in dié nommers ontvang, asook in die 10km en 15km. Hy ding in die tweewielfiets-afdeling mee.
Raynardt Labuschagne (o.17) het goue medaljes verwerf in die 800m, 1 500m, 5km en 10km. Valerie Cooper (o.19) het goud verwerf in die 800m, 1 500m, 5km en 15km. Sibongile Bazine (o.21) het goud losgery in die 800m, 1 500m, 10km en 15km. Die bogenoemde leerlinge het op driewiele deelgeneem.
Nog fietsryers wat in die tweewielfiets-
afdeling deelgeneem en uitgeblink het, is
Nicisha Slabbert (o.15) en Vian Bonthuys (o.15), wat goud verwerf het in die 1000m, 3000m, 5 km en 12,5km. Denzel Mokone (o.19) het goue medaljes behaal in die 1 000m, 3 000m, 10km en 25km. Jimmy Ozode (o.19) het silwer ontvang in die 1 000m, 3 000m, 10km en 25km. Lehloane Leshoro (o.21) het goud ontvang in die 1 000m, 3 000m, 15km en 30km.
Izak van der Merwe (o/15) het silwer verwerf in die 1 500m, en brons in die 800m, 5km en 10km.
Die oud- Martie leerlinge het uitstekend gevaar. Jenna-Leigh Pollock (o.21) en Zack Wolmerans (o.21) het goud ontvang vir die 1000m, 3000m, 10km en 25km. Albei het op ‘n tweewielfiets deelgeneem.
Mojalefa Mojake (ope afdeling) het goud ontvang in die 10km en 20km. Hy het op ‘n driewielfiets deelgeneem.
Vier fietsryers van Tswellang was in die span. Hlekiwe Hlobelo het in die driewiel-afdeling silwer behaal in die 800m, 1 500m, 10km en 15km. Nkosinathi Mkuzanywe (o.21) het ook in dié afdeling brons ontvang in die 800m, 1 500m, silver in die 10km en goud in die 20km. In die tweewiel-afdeling het Thato Antoon (o.17) silwer behaal in die 1 000m, 3 000m, 10km en 15km. Reyaleboha Memani het goue medaljes onvang in die 1 000m, 3 000m, 15km en 25km.
Line Maree (o.15) van die Hoërskool Bultfontein het goud in die 800m en 1 500m verdien op ‘n driewielfiets.
Cristiano, Nicisha, Denzel en Lehloane het dwarsdeur die kompetisie besonderse tye gery.
Een leerling van Martie du Plessis en twee van Tswellang was lede van die CP-sokkerspan wat vierde in die kampioenskap geëindig het.
Daar was ses spelers in die senior manspan en ses in die senior vrouespan van die doelbalkampioenskap. Die spelers kom meestal van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) en Motheo-kollege, en dié Vrystaat-spanne het brons verwerf.
Naledi Nhlapo (BC4) van Martie du Plessis het silwer gewen in die individuele boccia-kompetisie en bons in die parekompetisie. Karabo Morapedi (BC3) van die SUT se Welkom-kampus het goud ontvang.
Lerato Ntshetsi (BC2) van Tswellang het brons ontvang in die individuele kompetisie.
Marisa Potgieter, die Vrystaatse en nasionale boccia-sameroeper en ‘n arbeidsterapeut by Martie du Plessis, het die Kwenjejani-wisseltrofee vir die beste nasionale sameroeper in die kampioenskap ontvang.
Luan Potgieter, ‘n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Sentraal, was die enigste swemmer van die Vrystaat. Hy het persoonlike beste tye in al agt sy nommers geswem en goud behaal in die 100m-borsslag, silwer in die 50m- en 200m-borsslag, en brons in die 50m-rugslag.
Enigeen wat by sport vir fisiek gestremdes betrokke wil raak, hetsy met borgskap, as vrywilliger of deur deel te neem, kan e-pos stuur na info@fssapd.co.za.