Lynette Fischer in die 2 000 m-hindernis­wedloop op die Afrika-meesterskampioenskapsbyeenkoms in Pretoria, waar sy die Afrika-rekord verbeter het.Foto: Verskaf


Vrystaatse meestersatlete het die naweek uitgeblink toe hulle aan die 14de Afrika-atletiekkampioenskaps­byeenkoms in Pilditch-stadium, Pretoria, deelgeneem het.

Spanne van verskeie Afrika-lande, asook spanne van oorsee, het op uitnodiging aan die byeenkoms van 16 tot 18 November deelgeneem.

Atlete van onder meer Estland, Rusland, Duitsland en Amerika het meegeding.

Die Vrystaatse atlete het tussen hulle 18 medaljes verower.

Benewens die Suid-Afrikaanse rekord hou Bloemfonteinse atleet Lynette Fischer nou ook die Afrika-rekord in die 2 000 m-hinderniswedloop. Sy ding mee in die ouderdomsgroep vir vroue 65 jaar.

Sy het die naweek Alet Ten Tuscher se rekord, wat 24 jaar gelede op 8 Augustus 1999 in Gateshead opgestel is, met 1 min 20 sekondes verbeter.

Ten Tuscher se tyd was 11:52.25 en Fischer se nuwe rekord is 10:32.24.

Fischer is ook ’n uitblinker in driekamp, veldloop, biathle en triathle en het Suid-Afrika al op verskeie byeenkomste verteenwoordig.

Op die biathle-en-triathle-wêreld­kampioenskapsbyeenkoms op 5 November in Bali is sy ’n derde keer agtereenvolgens as die wêreldkampioen in haar ouderdomsgroep in die individuele biathle en triathle gekroon.

Benewens haar oorwinning in die 2 000 m-hinderniswedloop op die naweek se byeenkoms, het Fischer ’n silwermedalje in die 800 m in die ouderdomsgroep vroue 65 jaar behaal.

Ander uitslae op die byeenkoms, is:

  • Marthie Bronn (vroue 55 jaar) – tweede in die 100 m en 200 m.
  • Amanda Labuschagne (vroue 40 jaar) – eerste in hoogspring en tweede in die 2 000 m-hindernis en die veldloop.
  • Maryna Swanepoel (vroue 35 jaar) – eerste in die 21,1 km en tweede in die 5 000 m en 10 000 m.
  • Carmen Da Silva (vroue 50 jaar) – tweede in die 400 m en derde in die 200 m.
  • Pierre Fourie (mans 45 jaar) – derde in die 100 m en vierde in die 200 m.
  • André Bartleman (mans 55 jaar) – tweede in die 100 m-hekkies, 400 m-hekkies en die tienkamp, vierde in die hoogspring en vyfde in die spiesgooi.
  • Norman Modise (mans 50 jaar) – derde in die 21,1 km, vierde in die 5 000 m en vyfde in die veldloop.
  • Conradie Scheepers (mans 55 jaar) – eerste in gewigstoot.

You need to be Logged In to leave a comment.