Afrigters en onderwysers van oor die sentrale streek heen het die vakansie ‘n atletiek-afrigtingskursus by die Hoërskool Jim Fouché bygewoon.

Die Vrystaatse skoleatletiekvereniging, wat twee keer per jaar ‘n atletiek-afrigtingskursus in die provinsie aanbied, gee opleiding aan afrigters oor hoe om hul atlete se tegniek te verbeter.

Danie Nieuwenhuisen sê sewe hoof- afrigters het 45 afrigters van die Vrystaat, Oos-Kaap en Noord-Kaap tydens die kursus van Woensdag 8 Oktober tot Vrydag 10 Oktober die fynere kunsies van afrigting geleer.

Tersius Liebenberg met een van sy ster-atlete Ewald Jansen. FOTO: Lientjie Mentz

Die voorsitter van die Vrystaatse Afrigtersvereniging Spanjool Wessels sê talle van die afrigters het ook hul atlete saamgebring sodat atlete saam met afrigters nuwe tegnieke kon leer.

“Dit is meer as net tegniek. Elke afrigter skryf uiteindelik ‘n eksamen voordat hulle na ‘n volgende vlak kan aanbeweeg.

“Ons doel is om atletiek oral in die Vrystaat te bevorder. Ook leerlinge van klein skole soos Koffiefontein moet die geleenthede kry om afrigting in atletiek te kry,” sê hy.

Een van die land se top-atlete Ewald Jansen van die Noordwes-Universiteit (NWU) het saam met sy afriger, Tersius Liebenberg van Potchefstroom die kursus bygewoon.

Ewald neem van gr. 6 aan spiesgooi deel en moes kies tussen rugby en spiesgooi sy atletiek en rugby.

Hy het reeds in gr. 11 aan die o.18-Afrika Spele gaan deelneem en het in 2023 aan die Jeug-statebondspele in Trinidad en Tobago deelgeneem.

Die jong atleet het vanjaar behoorlik uitgeblink en is as die Afrika-kampioen in die o.20-afdeling aangewys.

Op die Wêreld-universiteitspele in Duitsland het hy ‘n sewende plek behaal.

Jansen mik vanjaar om sy stempel op senior vlak af te druk.

You need to be Logged In to leave a comment.