Smullekker hoender-roetie met avokadopeer

Suid-Afrikaanse Avokadopeerkwekersvereniging

Beurtkrag het mense kreatief gemaak. As jy op ’n slegte tyd van die dag in die duister sit en boonop graag ’n warm ete vir die gesin wil voorsit, dan kan die idees maar gerus inrol.

Terwyl avokadopeer hier in die koue wintermaande volop is, is dit ’n heerlike bestanddeel om by talle geregte te gebruik.

Hier is die Suid-Afrikaanse Avokadokwekersvereniging (SAAKV) se resep vir ’n hoenderkerrie-roetie oor die kole of gas.

Bestanddele vir die kerrie:

  • 45 ml matige kerriepoeier;
  • 80 ml mielieblom;
  • 6 hoenderborsies, in blokkies gesny;
  • Avokado-olie vir braai;
  • 2 uie in ringe gesny;
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk;
  • 410 g (blikkie) Indiese gekapte tamaties;
  • 375 ml gewone jogurt (ekstra vir garnering);
  • Handvol koljander, fyngekap (ekstra vir garnering).

Bestanddele vir avokadopeer-roeties:

  • 180 ml fyngedrukte avokadopeer;
  • 250 ml koekmeel en bietjie ekstra om die roetie op uit te rol;
  • Een suurlemoen se sap;
  • 5 ml sout;
  • 80 g gesmelte botter.

Maak só:

1. Meng die helfte van die kerriepoeier en mielieblom saam. Voeg sout en peper by en bedek die hoenderrepies daarmee.

2. Verhit ’n 25 cm platboom-ysterpot oor medium kole en braai die hoender tot goudgeel. Geur met sout en peper en plaas dit eenkant.

3. Gebruik die olie en braai die uie vir so 5 min. Voeg die knoffel en die res van die kerriepoeier by en braai vir 1 min.

4. Voeg nou die tamaties en hoender by, bedek en laat die mengsel vir 10 min prut. Voeg ’n bietjie water by indien nodig sodat die kerrie nie droogkook nie.

5. Meng nou die jogurt en koljander by sonder dat die mengsel kook.

6. Meng al die bestanddele vir die roetie totdat ’n sagte deeg vorm. Verdeel dit in vier tot ses balletjies en rol dit so dun as moontlik in ronde vorms uit oor ’n oppervlakte waaroor jy meel gestrooi het.

7. Plaas hulle een vir een oor medium, warm kole op ’n roosterplaat vir so 2 tot 3 minute tot hulle gaar is. Verf botter oor elke roti.

Bedien die kerrie in die uitgerolde roeties met ’n snytjie avokadopeer, saam met ekstra jogurt en koljander.

You need to be Logged In to leave a comment.