Baanbreker in patalogie-dienste gevier

In sy 60ste bestaansjaar vier PathCare met trots sy lang geskiedenis in Bloemfontein.


Op die viering van PathCare se 60ste bestaansjaar is van links, voor: Shenita Fry, Mongezi Jason, dr. Dewald van der Walt, Lize O’Neill en Carin Viviers; agter: Armand Möller, dr. Mariana Lloyd, Lizbé du Plooy, Daleen du Toit, dr. Gerrie van der Westhuizen, dr. Julia van der Westhuizen, dr. Debbie Jafta, dr. Engela le Roux en Reneé Rudig.Foto’s: Verskaf

In sy 60ste bestaansjaar vier PathCare met trots sy lang geskiedenis in Bloemfontein.

Dié onderneming is in 1962 gestig en het aanvanklik as Dr Voigt en Vennote bekend gestaan.

Aangesien dit die eerste patologie-laboratorium in die stad was, het dit vinnig ’n huishoudelike naam geword. Vandag is daar takke oor Suid-Afrika heen.

Plaaslik beskik PathCare oor 11 patoloë – elk ’n spesialis in sy of haar eie veld. Die patoloë kan dus die verwysende geneesheer en pasiënte met hoogs gespesialiseerde raad en diens bystaan. Die personeel is toegewyd tot akkurate en vinnige diens.

PathCare is ’n geakkrediteerde laboratorium by die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (Sanas) en voldoen aan al die toepaslike toetsmetodes. Boonop is dit deel van die Nasionale Patologie-groep (NPG), wat gesamentlik besluite oor belangrike patologie-toetsmetodes, pryse en praktyke neem.

Volgens dr. Dewald van der Walt, plaaslike besturende patoloog by PathCare Bloemfontein, het die praktyk baanbrekerswerk in die veld van patologie gedoen.

“Ons streef daarna om op laboratoriumgebied voor te bly met die nuutste mediese toetse en toetsmetodes,” sê hy.

“Ons neem ook die voortou wat tegnologie betref.”

Aan die werk in PathCare se laboratorium by die Life Rosepark-hospitaal is van links Pontsho Mofokeng, Diana Vermeulen, Godfrey Makgahlela en Niemandia Softley.

Danksy die selfregistrasieportaal (SRP) kan mense hulle aanlyn registreer voordat hulle ’n Path­Care-depot besoek om byvoorbeeld bloed te laat trek.

“Hiermee word verseker dat die korrekte inligting reeds aan ons beskikbaar is, ongeag waar jy ons besoek. Dit vergemaklik die administrasie wanneer jy bloed kom trek en verseker dat ons min van ons pasiënte se tyd in beslag neem.”

PathCare se “Carebot” bied boonop vir pasiënte ’n WhatsApp-gedrewe en gerieflike manier om hul uitslae te kry en betalings te maak. Belangstellendes kan die nommer 021-596-3400 op hul selfoon stoor om van hierdie diens gebruik te maak.

Veeartseny patologie-dienste, bloedtoetse vir versekeringsdoeleindes en omgewingstoetse soos grond- en watertoetse word ook by PathCare gebied.

Boonop kry mense 60 jaar en ouer afslag op toetse as hulle nie ’n siekefonds het nie. Pasiënte wat kontant betaal, is ook op ’n 25%-afslag geregtig.

“PathCare wil die hospitale, dokters, pasiënte en ander kliënte van Bloemfontein en omgewing bedank vir hul lojale en getroue ondersteuning deur die jare,” sê Van der Walt.

“Kom besoek gerus een van ons depots en ervaar self ons gehaltediens.”

Pathcare

PathCare se personeel vier 60 jaar.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.