Baba Brave (vyf maande) se hartseer storie het ’n gelukkige einde met ’n liefdevolle huis waar hy nou tuis is.
Reinet Meyer, hoofinspekteur van die Bloemfontein DBV, sê hulle was uiters ontsteld toe hulle dié jong, ondervoede hond in erge pyn by ’n huis in Rocklands gaan haal het.
Die span van die DBV het die hond op 19 Februarie gekry met sy oortjies wat afgesny is.
“Hy moes erge pyn en angs verduur het. Ons het hom na die DBV gebring en besluit om vir hom ’n nuwe naam te gee wat by hom pas. Ons het hom Brave gedoop.”
Sy sê die vorige eienaar wat dié hondjie so wreed beseer het, kon nie opgespoor word nie.
Die oortjies het erge infeksie gekry en hy moes ook ’n spesiale dieet volg omdat hy so ondervoed was.
Meyer sê Brave het baie terugslae, beserings en siekte in sy jong lewe gehad, maar sy veggees het hom deurgedra.
“Brave se oortjies het mooi gesond geword en hy is weer vol lewe,” het Meyer gesê.
Verlede week het sy vriende by die DBV vir hom ’n nuwe huis gevind.
Juliana en Bill Lance, Brave se nuwe mense-ouers, het hom Vrydag by die DBV kom haal.
Nou gaan hy ’n liefdevolle huis hê.
“Dankie dat julle jul deure oopgemaak het vir Brave om vir hom ’n tweede kans op ’n gelukkige lewe te gee,” het Meyer haar waardering teenoor die Lance-egpaar uitgespreek “Ons is so bly vir Brave.”