Babatreë is vir elkeen wat in die geloof wandel

Ek onthou my ma.


Ek onthou my ma.

Ek kan nie onthou toe ek my eerste treë gegee het nie; maar ek is seker sy was daar. Opgewonde. Soos ma’s is.

Teen daardie tyd het ’n ma haar kind mos ongeveer nege maande gedra; geboorte geskenk, gevoed en gesien hoe die kind mens word.

Hoewel ek nie onthou toe ek leer loop het nie, onthou ek wel hoe Ma leer loop het. Jare later.

Vanaf geboorte groei ons na onafhanklikheid. Afskeid en afstand is deel van die lewe. Kleuterskool, laerskool, hoërskool. En toe weermag. Vir die eerste keer het afstand ’n rol gespeel. Die gesin het my by die melktrein op Bethlehem kom groet. ’n Nagreis na Bloemfontein.

In die kospakkie wat Ma saamgestuur het, was ’n klein boekie met dag­stukkies: Faith for Daily Living.

Ma het afstand laat krimp. Sy was by my in die weermag. Bykans elke dag. Deur haar briewe.

As briewe geblyk het van jou meisie te kom moes jy opstote doen. Veral as dit na parfuum geruik het. Vir Ma se briewe hoef ek nooit opstote te gedoen het nie.

Haar handskrif was herkenbaar krapperig. Geen ronde krulle en draaie of gekinkelde letters nie.

Net Ma. Geen-nonsens ma. Tuisbly-ma.

Sy vertel die seisoene draai, die motor sukkel om te vat, haar skouer is seer, sy was by die haarkapper.

Soms ’n pakkie met vrugtelekkers en ’n nuwe maand se Faith for Daily Living.

Ná weermag is ek universiteit toe. Gedurende ’n tuis­vakansie moet ma hospitaal toe. Toetse. Haar seer skouer?. Borskanker.

Die rolle ruil. Ek bly by my broer in Bloemfontein en gaan haal Ma gereeld.

Sy kom na Nasionale Hospitaal vir bestraling en chemo­terapie. Soos sy die afstand tussen Bloemfontein en Bethlehem laat krimp het met briewe, probeer ek dit met speletjies.

“Kom ons kyk wie sien Wolhuterskop eerste.”

Ek weet dat Wolhuterskop net oor die volgende bult sigbaar sal wees. Dat sy dit eerste kan sien, kan wen. Dalk sal vergeet hoe naar sy voel.

Tydens ’n hospitaalbesoek skraap ek en my sussie moed bymekaar en nader ’n dokter.

“Dokter, wanneer sal Ma weer kan loop?”

Hy skud sy kop.

“Jul ma sal nie weer kan loop nie.”

Ons kyk vir mekaar. Ons huil oor Ma, maar nie voor Ma nie.

Desembervakansie. Tuis gaan die plaasdinge hul gang. Besig. Ma probeer elke dag ’n halfuur lank in die sitkamer sit. ’n Pet op haar kaal kop. Merendeels is sy in die bed. Lees die nuwe maand se Faith for Daily Living.

Een aand sit Ma weer in die sitkamer in haar rolstoel. Uit die bloute vra sy vir haar loopraam.

Ons moet haar regop help. Sy vou haar hande om die loopraam. Tree vorentoe. Nog ’n tree. ’n Derde tree.

Met die derde tree het Ma my weer leer loop. Sy het my geleer dat dit nie saak maak wat die dokters, die wêreld of selftwyfel sê nie. ’n Mens kan weer opstaan. Mens kan weer leer loop.

Al wat jy nodig het is geloof. Elke dag. Faith for Daily Living.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.